Louise Rheeder. FOTO: Nielen de Klerk


Soos vinkel en koljander, is dit moeilik om aan Louise Rheeder (65) te dink sonder om ook aan die Laerskool Eversdal te dink.

Louise Rheeder. FOTO: Nielen de Klerk

Rheeder, wat in 1981 begin het, lê vandag – ná 42 jaar by die skool – die tuig neer.

Leerders gaan haar egter nog die eerste kwartaal volgende jaar by die skool sien, waar sy in ’n konsulterende hoedanigheid met die oorgang gaan help.

Die boodskappe van herinneringe stroom nog in nadat die skool haar uittrede onlangs op sosiale media bekendgemaak het.

“Fenomenale onderwyseres,” vertel een. “Een van my beste onderwysers in my skoolloopbaan! Ongelooflike mens, met ’n groot hart. Baie respek vir haar. Welgedaan en baie geluk, Juf. Rheeder!” sê ’n ander. Nog vra sy moet gekloon word en een onthou nog hoe sy hulle op skool geleer het hoe om reg te leer – iets wat sy tot matriek toe toegepas het (“met breinkaarte,” antwoord sy wanneer sy hieroor gevra word.)

Sy is skoon verstom deur die groot reaksie, sê sy. “Ek was bevoorreg om betrokke te wees by ’n fantastiese skool, wonderlike kollegas en skitterende kinders, wat elke dag gemaak het dat ’n mens die onverwagte op soms die mees onverwagte tye beleef.”

Rheeder, wat in Stellenberg woon, was sedert 2008 die skool se adjunkhoof.

Sy kom uit ’n onderwysgesin. Sy het in Oos-Londen grootgeword. Haar pa, Gotfriet, was langer as 30 jaar ’n onderwyser by Baysville Spesiale Skool, waar haar ma, Rina, die sekretaresse was. Haar ouer suster, Dawena Jonck, was tot haar aftrede ’n musiekonderwyser in Gonubie.

Die werk pas haar soos ’n handskoen. “Ek het van jongs af altyd kinders na my toe getrek en ek glo ek het nog baie om te bied aan diegene wat wil leer. Ek het nie een dag gevoel ek is in die verkeerde beroep nie.”

‘ ’n Staatmaker’

Die Laerskool Eversdal lê haar nog altyd na aan die hart. “Eversdal was al die jare baie goed vir my; ons as personeel het baie hard gewerk en werk steeds hard om die standaarde hoog te hou.”

Sy glo in die visie van die skool, sê sy. Een van haar mentors, Henk Arangies, wat tot verlede jaar die skoolhoof was, het groot verandering by die skool teweeggebring.

In dié tydperk het die skool bekendheid verwerf vir sy gebruik van tegnologie om leerders te help, soos die feit dat alle leerders vanaf gr. 4 af tablette gebruik en dat die skool nie huiswerk gee nie. Dit het die hele onderwyskorps genoodsaak om self tegnologie tot hul voordeel te leer gebruik.

Arangies self sê dit was opmerklik hoe Louise altyd moeite gedoen het om nuwe tegnieke en tegnologie onder die knie te kry en suksesvol bemeester het. “Hierdie is een van die eerste kollegas wat ek sou saamneem as ek ooit ’n nuwe skool sou moes aanpak – ’n absolute staatmaker.”

Rheeder sê buiten vir Arangies sal sy altyd Jack van Renen en dr. Heinie Brand, wat haar ondersteun het, salueer. “Ook my graad-vyf-kollega van 1981 toot 2012, Susan Sherriff, wat my van die eerste dag by die skool onder haar vlerk geneem het. Ons is vandag steeds baie goeie vriendinne.”

Hoogtepunte by die skool is dat ander die instelling as ’n omgeeskool sien – “een waar elke kind belangrik is en waar elkeen die geleentheid kry om hom-/haar uit te leef en sy/haar nis te vind.”

Sy het al deur die jare baie hartseer ook beleef. Een wat uitstaan, was toe Cecile Swart, haar kollega en een van die grondslagfase-departementshoofde, in Januarie 2021 aan Covid oorlede is.

Tye verander

Sy het oor die jare al baie uiteenlopende kinders gesien en sê leerders is vandag anders as in 1981.

“Kinders van vandag is gewis meer eiegeregtig as vroeër jare se kinders. Aanvanklik het ’n kind maklik ’n ouer reggehelp en gesê ‘my juffrou sê so’. Die opvoeder het status in huise gehad,” sê sy.

“Vandag se kinders is maklik om te bevraagteken, hulle is eiewys en word tussen volwassenes groot, wat nie skroom om sommer voor die kinders van opvoeders te praat nie.”

Ouers verwag ook soms die onmoontlike. “(Hulle) skroom nie om dan die skool aan te vat oor byvoorbeeld sport en die kies van spanne nie. Onthou, elke ouer dink sy kind is die volgende Springbok- of Protea-speler. Intussen wil ons net elke kind die geleentheid gee om teen sy/haar eie pas te ontwikkel en dit te geniet.”

Haar raad vir nuwe onderwysers is om te vra. “Dit wat jy elke dag in jou nuwe beroep ervaar, kan jy nie op kollege of universiteit geleer word nie. Aanvaar dat jy gaan foute maak, maar leer uit jou foute.”

Sy sien nou daarna uit om in die tuin te werk; meer by haar kerk, die NG kerk Stellenberg, se gemeenskapsprojekte betrokke te raak; en meer aan haar fotografie aandag te gee. Sy hou ook van lees, die buitelewe en om nuwe plekke te verken.

“My kollegas salueer ek en wens hulle net die beste toe in hul werksaamhede en mag die Laerskool Eversdal steeds voortgaan om ’n baken binne ons gemeenskap te wees.

“Mag elkeen ons skool se leuse bly uitleef – om te gee.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article