Metro-polisiebeamptes het onlangs op verskeie dwelms en kontant by twee verdagtes beslag gelê.


Twee verdagtes is onlangs in Parow in hegtenis geneem vir dwelmhandel.

Die twee is verlede Donderdag 7 Desember deur lede van die Stad Kaapstad se metropolisie aangekeer.

Volgens Ruth Solomon, woordvoerder, was die beamptes om 13:27 besig met misdaadvoorkomingspatrollies toe hulle op ’n wenk gereageer het oor dwelms wat glo uit ’n motor verkoop word.

Die beamptes het dadelik op die wenk gereageer en die voertuig in ’n nabygeleë straat opgemerk.

“Terwyl hulle besig was om die motoris te ondervra, het hulle ’n groen plastieksak in die voertuig opgemerk, maar volgens die bestuurder was dit inkopies.”

Die beamptes het die sak deursoek en op 802 Mandrax-tablette daarin afgekom.

’n Verdere ondersoek van die voertuig het gelei tot beslaglegging op drie pakkies tik, ’n eenheid heroïen en 14 pakkies kokaïen. Daar is ook R5 000 kontant in die bagasiebak gekry.

Die dwelms is sowat R50 000 werd, sê Solomon. Die twee verdagte mans is onderskeidelik 38 jaar en 39 jaar oud.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article