Marlon Macalagh en Riana Bezuidenhout op hul troudag.

Credit: SYSTEM

Dit is vanjaar ’n Kerstyd vol liefde vir twee mense wat by die nagskuiling in Bellville woon.

Riana Bezuidenhout en Marlon Macalagh, wat in die MES Safe Space in Bellville ontmoet het, het verlede week getrou in wat uiteindelik ’n groot spanpoging geword het.

“Ons kan dit nie glo nie,” sê Macalagh. “Ons het later gesê God moet nou ophou afshow. Die (seëninge) raak net meer en meer.”

Macalagh, wat in die skuiling vir haweloses woon en tans met behulp van hul werkrehabilitasieprogram werk, sê hy het Bezuidenhout ontmoet toe sy op 7 Oktober by die skuiling ingetrek het.

Marlon Macalagh en Riana Bezuidenhout op hul troudag.

Hulle is albei oud-verslaafdes, maar Bezuidenhout het juis na MES gekom omdat sy nie ander verblyf gehad het nie.

Die twee het gou halsoorkop verlief geraak.

Hulle is albei Christene en een aand tydens ’n kerkdiens het Macalagh vir Bezuidenhout gefluister dat hy eendag met haar sou trou. “Sy het ja gesê,” sê hy laggend.

Die twee wou so gou as moontlik trou en “dit anders doen”.

Hulle was albei voorheen getroud. “Ons het voorheen saamgebly en so aan. Ons wou eers trou en dan saambly.”

Die twee het sowat ses sessies van huweliksvoorbereidingklasse by Shofar bygewoon en gesê hulle wil so gou as moontlik trou – sommer voor Kersfees.

Shofar het egter gesê hul pastore is nie geregistreer nie. Binnelandse Sake se eerste beskikbare datum was 19 Januarie.

Die twee is na Eben Lourens, uitreikleier by die Missio Dei-kerk (die ou AGS Bellville). Dié kerk hou al die afgelope ses jaar op Dinsdagaande diens by die Safe Space.

Onwetend vir die ander het beide Macalagh en Bezuidenhout vir Lourens afsonderlik gevra om hul huwelik te voltrek.

Lourens het gesê hy sal kyk wat hy kan doen. Hy is nie self geregistreer om ander te trou nie.

Die hoofleraar, Matthys Wessels, het hom egter oorreed en gesê hy of ’n ander pastoor, Pietie Strydom, moet teenwoordig wees en die dokumente by Binnelandse Sake indien.

Hy het die paartjie laat weet, wat verheug was.

Tyd was egter beperk.

Die twee moes binne enkele dae trou omdat Missio Dei net drie dae gehad het om die dokumente by Binnelandse Sake in te gee omdat die enigste beskikbare leraar, Strydom, met vakansie sou gaan. Daarna sou hulle eers weer in die nuwe jaar kon trou.

Die enigste beskikbare datum wat hulle toe kon kry was verlede Woensdag, 13 Desember.

Almal het ingespring om te help.

Missio Dei se welsyntak, Inceba, het vir albei klere gereël.

Bezuidenhout het “Uncle Joseph” (Fredericks), die tydelike bestuurder van Bellville Safe Space, gevra om haar in die kerk in te lei en af te gee.

Nog vrywilligers het ingespring om ’n verrassing vir die paartjie te gee.

Hulle sou aanvanklik ná die troue terugkeer skuiling toe en soos gewoonlik met hul lewe voortgaan.

Die kerk en ander vrywilligers het egter geld ingesamel en die paartjie na die Tyger Hills-gastehuis geneem, waar hulle vir drie aande gebly het.

“Dit was ’n voorreg om hulle te help,” sê Lourens.

“Dit is so mooi om te sien ongeag wat jou agtergrond is en waar jy jou ook al bevind, die Here steeds vir jou deurkom as jy alles in Sy hande oorlaat en vra vir Sy guns en seëning oor jou verhouding.”

Die kerk het ook geld ingesamel wat Macalagh sê hulle gaan spaar sodat hulle eendag saam iewers kan gaan woon.

Hulle het in ’n vorige lewe onderskeidelik in die spysenierings- en logistieke bedrywe gewerk en sal ook eendag weer daarheen wil terugkeer wanneer hulle weer op hul voete is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article