Jongmense is opgelei om afleweringswerk met e-fietse te doen.

Credit: SYSTEM

Dit is tyd dat Bonteheuwel nie meer in die nuus is net vir bendebedrywighede nie, maar ook vir die positiewe dinge wat gebeur.

En sedert die begin van die jaar is dinge aan die gebeur. Eers is jongmense uit die gemeenskap, wat nie matriek het nie, gekies om praktiese Seta-kwalifikasies te verwerf. Nou is daar meer as 100 jongmense aangestel om afleweringswerk in die gemeenskap te doen.

Angus Mckenzie, plaaslike raadlid, sê die gemeenskap van Bonteheuwel het vir baie lank gepleit dat daar ook afleweringsdienste in hul gemeenskap moet wees. “Hulle het by ander gemeenskappe gehoor dat hulle net die foon optel of op ’n app oopmaak, dan word goed by hul deure afgelewer. Hier moes mense sonder motors van openbare vervoer gebruik maak om wegneemetes en ander goed te kan koop,” McKenzie.

Mckenzie het die organisasie Green Riders, wat in Table View gebaseer is, gekontak. Hierdie organisasie het ten doel om “groen oplossings” te vind, wat ’n sosiale en omgewingsimpak het.

Luidens ’n inskrywing op die organisasie se webtuiste is sy missie om 50 000 nuwe werksgeleenthede in die volgende vyf jaar in die “laaste myl”- afleweringsbedryf te skep.

“Ons strategie is om werklose, minderbevoorregte jongmense te werf in die gebiede waar hulle lewe en hulle op te lei om professionele afleweraars te word. Ons en ons vennote wil die bedryf, wat deur buitelanders oorheers word, omkeer sodat Suid-Afrikaners ’n impak kan maak,” lui die inskrywing.

Afleweringserk word op e-fietse gedoen, wat nie net goedkoper is om mee te werk nie, maar wat ook minder skadelike gasse die lug in stuur.

McKenzie het die gemeenskap gevra om van die dienste gebruik te maak. “Al hierdie dinge gebeur om die lewe vir inwoners te verbeter,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article