Die Veterane Bystandfonds (VBF) het verlede week sy landswye uitreiktoer in Kaapstad afgesluit met besoeke aan Kraaifontein, Goodwood en Parow, waar hulle militêre veterane getrakteer het.
Die onafhanklike nie-winsgewende maatskappy wat in Oktober 2019 gestig is, beywer hom vir hulpverlening aan dié veterane wat onderhewig was aan diensplig tussen 1967 en 1994.
Tydens die besoeke is lekker middagete aan die mans voorgesit, terwyl die bekende sanger Philip Moolman, wat ’n ambassadeur vir die fonds is, opgetree het. Daar is ook menige weermagstories en staaltjies gedeel, wat die manne teruggevoer het na die gedeelde herinnerings wat hulle steeds vandag saambind.
Veterane het elk ’n geskenkpakkie gekry en dié wat Sassa-pensioene of ’n ongeskiktheidstoelae ontvang, het elk ’n koopbewys van R500 ontvang.
Dr. Johan de Beer, ’n direkteur van die V
“Daar is min organisasies wat vandag na dié veterane omsien. As bejaardes, wat as jong mans groot opofferings moes maak, staan hulle vandag alleen. Ons wil vir hulle wys dat hulle waardeer word vir wat hulle gedoen het,” het hy in ’n onderhoud by die NG kerk Kraaifontein aan TygerBurger gesê.
Baie van die mans is so jonk as 17 in hul matriekjaar opgeroep vir militêre diensplig – eers nege maande, toe ’n jaar en daarna vir twee jaar.
Sommiges is uitstel gegun om eers voorgraadse studies te voltooi, maar baie min jong mans is vrygestel van diensplig vir enige ander rede as om medies ongeskik te wees.
“Jy moes vir jou land gaan veg, maar jy het nie eens stemreg gehad nie,” sê De Beer.
Die konflik in die Suid-Afrikaanse Grensoorlog, ook bekend as die Namibiese Vryheidsoorlog, het tussen 1966 en 1990 op die noordelike grense van die land gewoed.
Suid-Afrika se destydse regering het die land se noordelike grense in die laat jare sestig begin bewaak en teen 1975 is dienspligtiges operasioneel in ’n laeintensiteit-oorlog ontplooi, sê De Beer.
“Die konflik het ’n groot tol geëis. Die jong mans het teruggekeer met groot psigiese en emosionele skade en gesukkel om weer in die sameling aan te pas. Baie is gewond of selfs vermink om die res van hul lewens van rolstoele afhanklik te wees.
“Baie van die mans het ook nie ná die tyd hul beplande beroepsopleiding begin nie, nooit getrou of kinders gehad nie.
“Een van ons doelwitte met die nasionale uitreik was om diesulkes – dikwels op moedverloor se vlakte – op te spoor om hulp te verleen. Ons staan hulle by – eerstens met kos en klere en om weer in hul gemeenskap te hervestig in erkende bejaardesorgsentrums.”
Philip Moolman, ook ’n direkteur, verduidelik die VBF se werk as volg:
“Die VBF is nie ’n militêre organisasie, klub of vereniging nie; het geen lede nie, hef geen lidmaatskapsfooie en bied geen lidmaatskapvoordele aan nie.
“Hy is nie geaffilieer by enige militêre organisasie of die regering nie en is heeltemal afhanklik van donateurs wat eenmalig of maandeliks bydra om noodverligting uitsluitlik aan veterane te kan bied vir kos, klere, huisvesting en mediese sorg.”
“Die VBF-uitreik verwelkom alle veterane, maar veral dié wat finansieel uitgedaag word en van ’n Sassa-pensioen afhanklik is,” sê hy.
Moolman sê baie veterane oorleef in tragiese isolasie.
“Hul eggenote het hulle verlaat, of hul kinders het geëmigreer. Sommige veterane ervaar nie slegs isolasie van familie en vriende nie, maar voel ook afgesny van hul mede-veterane. Hierdie uitreike gee veterane ’n kans om weer kontak te maak met mense wat ’n soortgelyke geskiedenis as hulself deel; en moedig hulle aan met ’n nuwe besef dat hulle nie alleen is nie.”
Moolman sê die VBF was, danksy die publiek se skenkings, binne die eerste 10 maande van sy bestaan in staat om maandeliks by te dra tot die verblyf en maaltye van 69 veterane in nood.
Gedurende 2020, veral gedurende die inperking, het hulle kruideniersware aan 126 veterane voorsien, mediese sorg aan sewe, klere aan 19, sowel as 24 909 maaltye.
“Danksy al hoe meer maandelikse skenkers was hulle binnekort in staat om 61 320 maaltye gedurende 2021 te kon voorsien – byna drie keer meer as die vorige jaar. Die totale bedrag aan noodverligting het teen Februarie 2022 meer as R1,3 miljoen beloop.”
Besoek www.veteranebystandfonds.co.za of bel 064 705 2262 met navrae.





