Enrico Hartzenberg as Marshall in Sister Dinges.


Elizabeth Hartzenberg van Sarepta mag dalk nie meer fisiek hier wees om haar seun se eerste kortfilm te sien nie, maar sy gaan wel teenwoordig wees –in die draaiboek en in haar seun, Enrico Hartzenberg, se hart en wese.

Uit Enrico se pen het al teaterproduksies soos Liefde is rooi, Vloeibare moed en Die lig is blou, asook ’n aanlynreeks, Van Adamse, gevloei.

Eersdaags is dit die première van sy produksiemaatskappy Hartzenberg Films se debuut-kortfilm by die Joburg-filmfees.

Die jongman wat sy drome najaag, vertel hy het verlede jaar besluit hy wil graag ’n kortfilm skryf. Verlede jaar het hy ook agtergekom hy kan geld uit die sosialemediaplatform TikTok maak.

Hy het genoeg gemaak om twee kortfilms te kon finansier, vertel Enrico.

“Dit was verbasend. Ek het besluit ek gaan hierdie geld invest in my loopbaan – om nie stil te sit nie, maar dit te gebruik vir my goals en dreams.”

Die beplanning was reeds in plek om begin Augustus verlede jaar met die verfilming te begin toe sy ma sterf.

“My ma is op 31 Julie oorlede en ons moes toe die datum (van verfilming) skuif. Die week voor die begrafnis het ek so ’n stillness gevoel.”

Hy wou sy ma by die film betrek en ná ’n gesprek met Thabani Makanza, die regisseur, het hulle besluit om die storie aan te pas.

Die film se naam is Sister Dinges. Enrico vertel: “Dit gaan oor Marshall, ’n jong gay outjie wat ’n homofobiese aanval beleef op die dag toe hy besig is om sy ma se cremation te beplan. Die aanval dra by tot sy social anxiety, en sy anxiety om totsiens te sê vir sy ma, veral omdat hy nie daar was vir haar nie.”

Maar hy wil eerder nie te veel verklap nie. Die film sal in Maart in die Kaap vertoon word en dan kan mense self kom kyk.

Genesing

Enrico het vir sy ma ’n gedig geskryf wat hy op haar begrafnis voorgelees het. “Ek het vir haar gesê: ek en sy gaan nog once appear op ’n cover in Hollywood. Wie sou kan dink dat sy nou in die film is saam met my?”

Hy verduidelik hulle verwys na sy ma, met foto’s van haar, as die hoofkarakter se oorlede ma in die film.

“My ma het altyd vir my teen homophobic attacks beskerm. Ek voel die film is ’n ode aan haar, want dit is ’n ma soos sy wat dit veiliger maak vir jong seuns soos ons.

“Dit is nie net om dankie te sê vir my ma dat ek my drome kon uitleef nie, maar ook dat sy ’n hero was nie. Hoewel sy figuurlik gebruik word in die film, beteken dit letterlik baie vir my. Ek het baie genesing gevind toe ek die film geskiet het, met haar foto’s rondom my – dit het baie gehelp met die healing process.

Enrico en Thabani het saam aan die storie geskryf.

“Toe ek die finale teks kry toe sê ek vir hom ek moet hierdie karakter speel. Twee weke later toe sterf my ma, toe maak dit dit nog meer simbolies hoekom ek die film moes doen.”

Hy is seker die film gaan harte aangryp.

“Soos met my ander werk, is ek baie eerlik oor wat gebeur. Hierdie is ’n landscape vir mense met grief. Ek glo ook daaraan: ’n mens weet nooit wat ’n ander deurmaak nie, so ons moet kind wees teenoor mekaar.”

Hy hoop die mense van Sarepta sal ook die film kyk.

“Ek dink dit gaan baie vir my gemeenskap, Sarepta, beteken, want baie mense ken my al; hulle weet hoe ek was en hulle ken my ma ook, so ek dink as hulle die film sien, gaan dit ook baie vir hulle beteken.”

Maar vir nou sien hy eers uit om Johannesburg toe te gaan waar Sister Dinges op 1 Maart op die groot skerm gaan wys.

Toe hy gehoor het die film is aanvaar vir die Joburg-filmfees, het hy op sy knieë geval en gehuil.

“Ek kon nie ophou huil nie, want dit is my maatskappy se eerste kortfilm.

“Om te première by een van ons land se grootste filmfeeste, is vir my groot.

“My film gaan deelneem teen ander nasionale en internasionale films,” sê hy.

Wat die première nog meer hartroerend vir Enrico maak, is dat dit in dieselfde week as sy ma se verjaarsdag plaasvind.

Sister Dinges wys op Saterdag 16 Maart by The Wave Theatre in Langstraat.

Daar is drie vertonings – om 15:00, 15:30 en 16:00. Kaartjies kos R50.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article