Chris Jordaan, wyksraadslid, en Aletta Loterring, stigterslid van die Safety Parent Patrollers, is hier by die oorhandiging.

Credit: SYSTEM

Chris Jordaan, wyksraadslid, het op Woensdag 21 Februarie glimbaadjies aan die Safety Parent Patrollers-groep in Ruyterwacht oorhandig.

“Die Safety Parents Patrollers is ’n groep vrywilligers wat op hul eie sorg dat kinders in die skool is en hou die skole veilig, veral in die Ruyterwacht-gebied,” sê Jordaan.

Jordaan sê hy is oorweldig en bly dat vroue en een man dit doen uit vrye keuse en dat hulle hul tyd opoffer om die gemeenskap veilig te hou.

“Ek wil graag ’n beroep op die gemeenskap doen om betrokke te raak, veral by skole. Net vandag was daar weer ’n groot voorval by een van die skole en danksy die Safety Parents wat ’n belangrike rol gespeel het. Die saak is sub judiceen word tans ondersoek,” verduidelik Jordaan.

Jordaan sê ook dat hy alles in sy vermoë sal doen om te help waar hy kan, daarom het hy vir die Safety Parents-patrolleerders glimbaadjies gegee dat mense hulle kan uitken en besef hulle speel ’n rol wat tot voordeel is van die gemeenskap.

Maklike uitkenning

Die baadjies is nodig, want dit is glimbaadjies en uitkenning is beter vir enige gemeenskap en ouer, meen Jordaan.

“Die buurtwag is ’n ander aspek in die gebied wat ook ’n groot rol speel in veiligheid. Hulle het byvoorbeeld skelms gevang wat kabels gesteel het en dit teruggevind.

“Die diewe is opgesluit – ek haal my hoed vir die vrywilligers af,” sê Jordaan.

Volgens Aletta Lottering, stigterslid van die Safety Parent Patrollers, het Jordaan op Woensdag 21 Februarie die groep by die Laerskool De Wavern in Ruyterwacht besoek, waar hy aan hulle glimbaadjies oorhandig het.

Volgens Lottering dien die baadjies ook as beveiliging vir die rol wat hulle speel, sodat kinders die groep ernstig opneem en gehoorsaam sal wees wanneer hulle die groep sien.

‘Die oes is baie, hande is min’

Die groep vra dat ouers betrokke sal raak, veral ouers wat nog gesond is. “Die oes is baie, maar die hande is min,” sê Lottering.

Die groep doen gereeld bewusmaking.

“Ons reik uit na ouers, oumas en oupas wat nog iets wil doen.

“Ons weet baie ouers is werkloos en by die huis en ledig, maar kom uit en raak betrokke. Want as almal betrokke raak, kan ons hande vat en ’n veiliger gemeenskap en skole verseker,” sê Lottering.

“Ons is tans bietjie meer vroue en een man. Ons kort meer mans, veral om by die seunstoilette te patrolleer, want die vroue kan nie in die manstoilette ingaan nie. Ons benodig mans wat mekaar kan aflos.”

Lottering sê as iemand wil aansluit, moet hulle ’n passie vir die werk hê. Hulle moet ’n liefde vir die werk hê. Kommunikasie is baie belangrik.

“Ruyterwacht se Safety Parent Patrollers werk nóú saam met mekaar,” sê Lottering.

“Ons wil graag al ons skole veilig hou, nie net een of twee skole nie.

“Dus moet ouers betrokke raak by skole in hul gemeenskappe,” meen Lottering.

Enigeen wat betrokke wil raak, kan Lottering by 060 623 6123 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article