Casey Crow van Hi-Tec trek nuwe skoene vir Armandt Nortje aan.


Kraakvars nuwe skoolskoene, hemde en sokkies het verlede week vir groot glimlagte op die gesiggies van 100 leerders by die Primêre Skool Petunia in Kraaifontein gesorg.

Dit was danksy die werk van Be The Difference (BTD) ’n plaaslike nie-winsgewende organisasie wat die skool al sedert 2016 ondersteun.

Granthem Abrahams, stigter van BTD, sê hulle is wel bewus van hoe swaar dit gaan by dié skool in die bendegeteisterde gebied in Scottsville.

Die organisasie, saam met Hi-Tec wat die skoene geborg het, het die skool Woensdag besoek.

“Ons het in November ’n swartdas-ete gehou om geld in te samel vir kinders wie se gesin finansieel swaar trek.

“Ons is dankbaar vir almal wat ons met die projek ondersteun het en die skoolhoof, Faizal Yon, wat altyd ja sê as ons betrokke wil raak om iets vir die skool se leerders te doen,” sê hy.

Yon sê projekte soos dié verryk die kinders se lewens en verbeter hul selfbeeld.

“BTD het weer eens bewys dat sy tydsberekening perfek was om die kinders met klere en skoene te seën. Wat beter kan ons van ’n organisasie soos dié verwag?”

Casey Crow, handelsmerk-koördineerder van Hi-Tec, sê die maatskappy stap nou al baie jare ’n pad saam met BTD.

“Ons sal altyd daar wees as dit by skool-inisiatiewe kom. Ons is hier om die organisasie te help,” sê Crow.

BTD is in Mei 2014 deur Abrahams in Kaapstad gestig om ’n verskil in plaaslike gemeenskappe te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article