Danksy sewe boorgate en ’n opgeknapte watersuiweringsaanleg en wassery by die Tygerberg-hospitaal kan dié fasiliteit nou optimaal ingespan word om dit, sowel as ander dwarsoor die Wes-Kaap, te bedien.
Die Central Laundry-wassery, geleë op die perseel van die Tygerberg-hospitaal, bestaan al 54 jaar. Die wassery, sowel as die watersuiweringsaanleg langsaan, is verlede Woensdag deur dr. Nomafrench Mbombo, die provinsiale lid van die uitvoerende raad (LUR) vir gesondheid, besoek. Sy is vergesel deur dr. Anwar Kharwa, direkteur van fasiliteits-bestuur by die departement, en dr. Matodzi Mukosi, uitvoerende hoof by die Tygerberg-hospitaal.
Die opknappingsprojek behels twee projekte – die R126 miljoen belegging in toerusting, en R11 miljoen in infrastruktuur.
Geriewe vir personeellede, nuwe stoomlinne, elektriese bedrading wat vervang is, nuwe beligting, verkoelingstelsel en vloer is van die infrastruktuur wat opgeknap is, terwyl die toerusting wat geïnstalleer is, drie nuwe was-eenhede insluit, sê die departement.
Kharwa het in sy voorlegging aan amptenare van die gesondheidsdepartement en joernaliste verlede Woensdag gesê die wassery is sedert die 1970’s in werking en dat daar tans 94 personeellede werk.
Hy sê die wassery verskaf ’n diens aan 64 gesondheids-fasiliteite dwarsoor die metro, die Weskus en dat die Kaapse Wynlanddistrik ook onlangs by dié lys gevoeg is.
Maar, oor die jare het die wassery uitdagings ervaar en een daarvan is die verouderende toerusting, meen hy.
“Die wassery is in die 1970’s gebou saam met die Tygerberg-hospitaal, so die wassery is nagenoeg 54 jaar oud. Ons het die besluit geneem om dit op te knap weens die verouderende infrastruktuur en toerusting. Die opdrag was eenvoudig, onderhou ’n belangrike wasserydiens vir die hospitale wat die wassery bedien, sowel as die primêre gesondheidsorgfasiliteite,” het Kharwa ná afloop van die vergadering aan TygerBurger gesê.
Die projek behels die totale opknapping van infrastruktuur binnekant, en vervanging van toerusting.
“Dit gee ons nou die vermoë om tot 18 ton linne te was.”
Met die Kaapse wynland-distrik bedien die wassery nou ook hospitale en gesondheidsorgfasiliteite in die Paarl, Sonstraal, Stellenbosch, Robertson, Montagu en Ceres, sowel as 19 gemeenskaps-dagsorgsentrums in dié distrik.
“Tot op hede het ons nog geen uitdagings ervaar in terme van die dienste aan ander fasiliteite nie, so dit beteken daar was nog geen onderbreking in kliniese sorg nie,” meen hy.
Kharwa sê elke pasiënt wat op ’n bed slaap, benodig daagliks skoon komberse, linne, kussingslope en ’n hospitaal-jurk. “Dis ’n massiewe operasie, en ons is trots op die span wat agter die skerms werk.”
Hoewel daar tans 94 personeellede is, beplan die departement om nog 29 bykomende personeellede aan te stel. “Bo en behalwe die Kaapse wynlanddistrik, het ons die vermoë om nuwe hospitale ook te bedien.”
Kharwa sê die toerusting is die heel nuutste tegnologie in Suid-Afrika. “Dit was ’n lekker projek, en ’n eerste van sy soort.”
Belegging verwelkom
Die projek is kort voor die grendeltyd aan die gang gesit – iets waarvoor Mukosi as hoof van die Tygerberg-hospitaal uiters dankbaar is.
“Ons verwelkom die belegging in veral die watersuiweringsaanleg. Daar word gesê dat die aanleg in al die hospitaal se waterbehoeftes kan voorsien, maar die Stad Kaapstad sal nog ’n gedeelte daarvan aanvul.
“Dit beteken so baie vir ons, want nou kan ons die wassery ook van water voorsien. Die wassery is heeltemal afhanklik van die water wat hier gesuiwer en beskikbaar gestel word, en bedien ook ’n groot aantal hospitale dwarsoor die Kaap,” sê Mukosi.
Hy sê daar is tans 1 384 beddens in die Tygerberg-hospitaal. “Onthou, die Tygerberg-hospitaal is die tweede grootste staatshospitaal in Suid-Afrika, naas Chris Hani Baragwanath-hospitaal. So daar is baie beddens en linne; dit is werklikwaar ’n goeie belegging vir ons.”
Tonne materiaal gewas
Freek Lot, beheerbestuurder van die wassery, het al meer as 40 jaar diens in die bedryf. Hy was ook die projekbestuurder.
“Ons het die infrastruktuur verander, en ook die toerusting vervang. Daar is baie geld aan die projek bestee,” sê Lot.
Hy sê die wassery hanteer sowat 27 ton linne per dag. “Elke dag doen elke masjien sowat 220 vragte van 50 kg elk.”
Lot het 33 jaar van sy loopbaan by die Lentegeur-wassery deurgebring, waar hy ook die bestuurder was.
“Ek het eintlik al afgetree en werk op kontrak. Tans staan ek die Tygerberg-hospitaal by en maak seker al die ander hospitale wat bygekom het, funksioneer,” het hy aan TygerBurger gesê.
Mbombo sê die departement wil deur middel van dié projek toon hoe vaartbelyn die diens is, en ook hoe krag en water deur die opknapwerk bespaar kan word.
Mbombo meen voorheen het die hospitaal omtrent R1 miljoen per maand aan water betaal, maar dat dit afgeneem het tot omtrent R47 000.
“Daar is altesame agt boorgate, waarvan sewe tans funksioneer.
“Meer as ’n miljoen liter water word per dag gesuiwer. Die boorgate is geïnstalleer ná die eenmaal-’n-eeu-droogte wat die Kaap ervaar het,” sê die departement.
Luidens ’n verklaring is die munisipale waterrekening met meer as 90% gesny ná die opknapwerk aan die watersuiweringsaanleg. “Die wassery se nuwe wasmasjiene maak nou van minder water gebruik, maar minder krag word ook gebruik vir die stryk van die materiaal,” sê Mbombo.





