Drie vermeende inbrekers het hul Sondag vroegoggend in Aurora in Durbanville teen die knap “speurwerk” van buurtwaglede – met onder meer ’n hommeltuig en videomateriaal van sekerheidskameras, asook puik spanwerk deur drie plaaslike sekerheidsmaatskappye, vasgeloop.
Volgens Francois Oosthuysen, ’n blokbestuurder van die Aurora-buurtwag, is die alarm van sy huis in Odendaalstraat omstreeks 04:32 geaktiveer, waarna ’n buurvrou hom gekontak het dat sy min of meer dieselfde tyd ’n onbekende man deur haar tuin sien hardloop het. Hy het besef dit moet ’n verdagte inbreker wees en het die buurtwag-reaksiegroep ontbied. Hy het daarna met die buurtwag se termiese hommeltuig na die verdagte persoon begin soek.
Twee sekerheidsmaatskappy, Zonewatch en ADT, het kort na mekaar opgedaag en die omgewing begin fynkam. Intussen het nóg ’n sekerheidsmaatskappy, CDF (Civil Defence Force), ’n verdagte verder af in Groblerstraat aangekeer.
Rooi mussie
Sy buurvrou het ’n video van haar sekerheidskamera aangestuur, waarin die verdagte man wat deur haar tuin gehardloop het, gesien kan word. Hy het rooi tekkies en ’n rooi mussie gedra. Hy het vermoedelik daarna oor die muur in Oosthuysen se tuin gespring, wat sy alarm geaktiveer het.
Volgens Oosthuysen is hy dadelik na Groblerstraat, maar was die verdagte wat CDF aangekeer het, nie dieselfde persoon op die video nie. Daar is wel inbraakimplemente by hom gevind.
Buurtwaglede het intussen ’n verdagte VW Polo opgemerk wat weggejaag het. Hulle het dieselfde voertuig weer naby Aurora-park opgemerk en dit afgetrek. Die insittendes het soortgelyke klere gedra as die verdagte persoon op die video, maar nie een het ’n rooi mussie gedra nie. Hulle het beweer hulle is Uber-drywers en het verdwaal.
Kort daarna het nog ’n buurman van Trentstraat by Oosthuysen aangesluit en hom die video van sy sekerheidskamera gewys. Daarop kan die verdagte, wat reeds aangekeer is, en die man met die rooi mussie duidelik gesien word waar hulle met die gesteelde goed verby sy huis hardloop.
“Intussen het ek die CDF-beamptes gevra om te kyk of die man wat hulle aangekeer het, ’n selfoon het, wat hy toe wel het. Hulle het ’n foto van die laaste nommer wat die verdagte gebel het, vir my gestuur, wat ek toe aangestuur het.”
Oosthuysen is toe na die verdagte VW Polo, waar hy opgemerk het die drywer dra rooi tekkies soos op die videomateriaal. Nie een het egter ’n rooi mussie gedra nie.
Hy het die gesteelde goed toe in ’n bos op die sypaadjie in Trentstraat ontdek en dit op die straatgroep rapporteer. Kort daarna het ’n inwoner laat weet sy het pas ontdek daar is by hul huis in Groblerstraat ingebreek. Die diewe het toegang tot die huis verkry deur ’n venster uit sy raam te verwyder.
Die platskerm-televisie, twee kussingslope vol drank en EcoFlow-omskakelaar wat onder meer gesteel is, is alles in die bos in Trentstraat – net om die hoek van Groblerstraat – teruggevind.
“Intussen het die buurtwaglede by die VW Polo opgemerk die twee verdagtes is heeltyd op hul selfone doenig en sien toe dat een van die nommers wat hulle kontak, ooreenstem met die selfoonnommer wat ek vir hulle gestuur het. Dis toe dat hulle besef die drie verdagtes is almal saam.
“CDF is gevra om hulle en hul voertuig te deursoek, en daar kry hulle die rooi mussie en nog inbraak-implemente in die voertuig,” sê hy.
Gesteelde besittings bewaak
Al drie verdagtes is gearresteer en deur CDF na die Durbanville-polisiekantoor geneem. “Dit was ’n reuse-spanpoging tussen die buurtwaglede en sekerheidmaatskappye wat tot dié sukses gelei het,” het hy gesê.
Die eienaar van die gesteelde goed het intussen sy besittings gaan uitken, waar dit steeds op die sypaadjie deur ’n buurtwaglid bewaak is. Die polisie het omstreeks 07:17 beslag daarop gelê vir verdere ondersoek.
Die Aurora-buurtwag hou sy algemene jaarvergadering op Maandag 11 Maart vanaf 19:00 by die Durbanville-rolbaanklub. Inwoners van Aurora word aangemoedig om dit by te woon.





