’n Hawelose man wat na bewering aan tuberkulose gely het, het verlede Donderdag dood neergeslaan voor die ingang van ’n spaza-winkel in Peerless Park, Kraaifontein.
Volgens ooggetuies het die 41-jarige man met sy trollie in die straat afgestap voor hy inmekaargesak het. Hy het glo baie bloed uitgehoes.
Die bloed het gelê van die trollie af tot waar hy voor die winkel se deur ineengesak het. Die trollie is ’n paar meter weg in die straat gevind.
Die polisie ondersoek nog sy raaiselagtige dood, maar daar word in dié stadium geglo dat die man aan natuurlike oorsake dood is.
“Mense het hom voor die winkel gekry lê. Hy was bekend aan inwoners as ’n hawelose in die gebied. Daar was ’n hospitaalkaartjie in sy sak, wat aandui dat hy op die dag van sy dood sy tuberkulose-toetsresultate sou kry.”
Volgens die paramedici op die toneel lyk dit of hy erg gehoes het,” sê ’n TygerBurger-bron.
Op die hospitaalkaart word hy geïdentifiseer as Luciano Hendricks.
Louise Strydom, woordvoerder van Kraaifontein-polisie, sê hulle is nog besig met ondervraging van ooggetuies, en om enige van die man se naasbestaandes op te spoor.
Die man het ’n groot tatoeëermerk van ’n spinnerak op sy linkerskouer gehad. Hy was kaal bolyf, maar het ’n denim en All Star-tekkies aangehad.
Die polisie sê hulle gaan ’n lykskouing doen om die oorsaak van sy dood te bepaal.





