In ’n geloofsprong het voormalige netbalspelers wat steeds aksienetbal speel, en ’n gemeenskapsleier in Morningstar in Durbanville onlangs ’n netbalklub gestig – sonder ’n baan of enige toerusting om mee te begin.
Die klub, wat reeds by die noordelike distrik van die Cape Town Netball Federation geregistreer is, se doel is om jong meisies reeds op laerskoolvlak aan netbal as sport bloot te stel.
“Ons het die klub begin met baie ywer, baie opgewondenheid en met groot doelstellings en baie geloof, want ons het letterlik niks gehad om ’n klub mee te begin nie,” sê Yolandi Hortnagl van Stellenberg, sekretaresse van Morningstar Netbal.
“Die belangstelling uit Morningstar en Fisantekraal was regtig ’n riem onder die hart en het ons gou genoeg belangstelling gehad om te kon voortgaan,” sê sy.
Die klub het intussen uitgereik na plaaslike hoërskole en nou oefen hulle elke week op die bane van die Hoërskool Durbanville. Ook die netbalorganiseerder van die Hoërskool Stellenberg het binne vyf minute ná ’n versoek hande gevat en twee stelle beffies, ’n sak balle, ’n noodhulpstel en twee telborde geskenk, sê Yolandi.
“Ons wil graag die skole bedank. Dis belangrik dat Durbanville weet ons skole gee terug en help waar hulle kan.
“Dis so ’n goeie inisiatief in die gemeenskap, veral vir die spelers en kinders wat nie noodwendig geleentheid kry in hul eie skole nie. Ons wil graag help om nog meer borge te kry om te help met vervoer, registrasiegeld vir die wat dit regtig nie kan bekostig nie en so meer,” sê sy.
Die idee om weer ’n klub te stig, het ontstaan toe Milene Zietsman van Morningstar vanweë haar jare lange betrokkenheid by netbal deur die ouers en spelers in die Morningstar-gemeenskap genader is om ’n klub te stig vir spelers van Morningstar, Fisantekraal en die omliggende plase.
Min blootstelling
“Hierdie gemeenskappe se kinders kry maar min blootstelling aan netbal op laerskoolvlak, en teen die tyd dat hulle hoërskool toe gaan, is die agterstand groot en is daar ’n geweldige gebrek aan vaardighede. Die spelers gee dan eerder op as om teen ervare spelers te probeer kompeteer,” verduidelik Yolandi.
“Die kinders se harte is op die regte plek; hulle kort net vroeër blootstelling om hulle kompeterend te maak op hoërskoolvlak. Senior spelers wil ook graag speel, maar hoë klubfooie en vervoer na ander klubs maak dit onmoontlik om aan te sluit en oefeninge by te woon,” sê sy.
Milene het in die tagtigerjare by die Evertons-netbalklub in Morningstar aangesluit. Sy het begin as ’n jong, onervare o.15-speler en toe die klub 10 jaar later in die negentigerjare ontbind, was sy ’n kranige A-span-speler vir die klub.
“Die klub het met die Durbanville-netbalklub saamgesmelt, maar baie min van die Everton-spelers het oorgegaan en meeste het ophou speel,” sê Yolandi.
Later in die negentigerjare het die Morningstar-gemeenskap weer ’n klub gestig, die Paradise Strikers, en later weer die Morningstar-netbalklub, waarvan Milene ’n bestuurskomiteelid was.
Finansies druk
“Finansies was maar weer eens ’n hindernis, en daar was ook nie meer ’n baan in Morningstar om op te speel nie. Vervoer, gebrek aan geld en ’n baan het veroorsaak dat die klub ongelukkig weer moes ontbind en spelers het by ander klubs aangesluit,” sê sy.
Milene het onlangs ’n vlak 1-netbalspanbestuurskursus, aangebied deur Netbal Suid-Afrika, bygewoon.
Sy het ’n vriendin en aksienetbal- en netbalklubmaat van haar, Candice van der Merwe, betrek. Candice, van Fisantekraal, is self ’n kranige netbalspeler, oorspronklik van Kalksteenfontein. Sy was van sesjarige ouderdom versot op netbal en speel steeds.
Weens die gebrek aan motivering, leiding en klubs waar sy grootgeword het, het sy nooit die geleentheid gehad om haar netbal verder te kon neem nie.
“Ek het myself belowe om eendag, wanneer ek kan, ’n klub te stig of te help om kinders die geleentheid te bied om hul netbal te verbeter, omdat ek weet hoe dit was om ’n groot liefde vir die sport te hê, maar te weet jy sal nêrens kan kom nie weens ’n gebrek aan ondersteuning,” sê Candice.
Die twee het Brenda le Roux, ’n gemeenskapsleier in Morningstar, gevra om te help met die finansies, fondsinsamelings en bestuur van die klub. Die hulp van Yolandi Hortnagl, ’n kollega van Candice by ’n regsfirma wat self ook aksienetbal speel, is ingeroep met al die regsvereistes en dokumente en bestuur van die klub.
Saam weet die vier dat Morningstar bestem is om groot hoogtes te bereik.
“Ons nuwe klub staan as ’n baken van hoop in die gemeenskap van Morningstar,” sê Yolandi.
“Ondanks talle uitdagings, is ons klub aangedrewe deur ’n passie vir netbal en toewyding om die talent in die gemeenskappe te ontgin,” sê sy.
“Ons doel is nie net om op die baan te presteer nie, maar ook om ons lede aan te moedig en te bemagtig om hul drome te verwesenlik, ongeag hul omstandighede,” sê sy.





