Dit was ’n loopbaan vol avonture – een waarin hy ’n nasionale sportman word, ’n reusebesigheid bou en selfs ’n draai in die politiek maak.
En nou, ná meer as vier dekades in die fietsrybedryf, lê Chris Willemse (68) die tuig neer.
Chris, wat nou in Durbanville woon, het einde Februarie vir die laaste keer by Chris Willemse Cycles (CWC) se deure uitgeloop om nou ’n nuwe hoofstuk in sy lewe te begin. Die een van aftrede.
Dit het alles begin toe hy ’n graad op hoërskool druip.
Hy was toe in die Hoërskool Oude Molen in Pinelands nadat hy in die Laerskool Parow Sentraal was. Toe hy egter aan die einde van standerd 8 (graad 10) kom, het hy gehoor hy het die jaar gedruip en wou nie teruggaan nie. Sy ouers, Maans en Christel, was vasbeslote dat hy die jaar moes herhaal.
“Ek het gesê ek gaan nie terug skool toe nie en sal dan wegloop,” sê hy. “Maar toe vat ek maar die pad Pretoria toe op die N1 met die duim,” lag hy.
Daar gaan bly hy toe vir drie maande by ’n vriend, met sy ouers wat eers ’n paar dae later uitgevind het waar hy is.
In Pretoria het hy eendag vir sy broer, Bernie, wat ’n kelner was, ’n skoon hemp na ’n vriend geneem.
Die vriend, Heinie Binneman, was ’n goeie fietsryer, wat al etlike resies gewen het.
In Binneman se huis sien hy toe al die trofeë wat hy al vir fietsry gewen het.
Chris het self teen daai tyd al verskeie kere trofeë gewen, meestal in atletiek, maar dié trofeë is altyd by die skool in ’n uitstalkas gehou.
Net daar het Chris besluit hy wil ook sy eie bekers wen.
Eie beker laat grafeer
Hy is terug Kaap toe en het groot gespaar vir ’n fiets. Hy het koerante afgelewer, The Argus op Vrydagaande voor die New National Hotel in Parow verkoop en dan footjies verdien deur mense se motors voor die Parow-burgersentrum te parkeer.
Uiteindelik kon hy ’n tweedehandse fiets koop.
“Ek was van kleins af maar ’n outjie wat gewheel en deal het en wou altyd geld maak,” sê hy. “Ek was nie lief vir skool nie. Ek wou fietsry.”
Hy begin toe in 1967/’68 fietsry, maar sy familie wou hê hy moes rugby speel en met sy eerste wedren het niemand hom kom ondersteun nie.
“Toe gaan koop ek ’n klein bekertjie by Toker Brothers in Goodwood en grafeer ‘17 Julie 1968 – 3de plek’ daarop en kom die Saterdagmiddag by die huis en wys my bekertjie vir my ouers en oupa.”
Die volgende week het hy sy eerste wedren gewen en sy gesin was skielik sy grootste ondersteuners.
Prestasies
In 1970 wen hy sy eerste Suid-Afrikaanse padtitel op sy 15de verjaarsdag. “Dit was ’n baie groot geskenk.”
Hy is op 16 vir die WP-seniorbaanspan gekies en die titels het ingestroom.
Hy was verskeie kere die SA kampioen in verskillende oudersdomsgroepe. Hoogtepunte sluit in die Paarl Boxing 25 myl, wat hy in 1977 gewen het, asook die Nuwejaarsdag 25 myl, wat hy in 1978 en 1979 gewen het.
Hy het boonop in 1981 en 1982 as Springbok teen ’n sterbelaaide span van Switserland meegeding.
In 1982 op 27 tree hy uit fietsry. Hy het teen daai tyd genoeg bereik en wou sy volle aandag aan sy onderneming gee.
Hy is nie trots daarop nie, maar is self ’n paar keer geskors omdat hy tydens fietswedrenne baklei het. Hy is selfs lewenslank uit Fietsry SA geskors nadat hy ’n skeidsregter geslaan het. “Daardie tyd het fietsry geen genade gevra en ook geen genade gegee nie.”
Daar was tog baie snaakse tye.
“Kyk, ek bak mos baie poetse vir mense, maar iets wat my altyd sal laat lag, is in die dae (vroeg sewentig) toe almal so gestreak het. Ek en twee van my vriende het besluit om kaal oor die fietsrybaan te hardloop – van die rolbaanbaan reg oor die baan tot by die markie.”
“In die proses het een van sy vriende se bene aan ’n draad vasgehaak. Hy het sy wind uitgeval. Die noodhulpbeampte hardloop toe nader om ’n kombers oor hom te gooi. Hy spring toe egter dadelik op, met ’n paar beamptes agterna.
“Gelukkig kon hulle hom nie weer vang nie, maar toe weet hulle wie ons is en kry ons drie weke skorsing.”
Dit was egter altyd sleg dat hy nie regtig oorsee kon deelneem nie weens die internasionale boikotte weens apartheid.
Besigheid
Dis debatteerbaar waarvoor Chris die bekendste is: Sy eie fietsry-prestasies of die sukses van sy winkel.
Hy het in 1977 in die skemerjare van sy fietsryloopbaan besluit om sy eie fietswinkel oop te maak en kry toe ’n baie klein perseel in die Paarl met net R1 800, al wat hy gehad het.
“Dinge was maar rof in die begin.”
Elke middag 16:00 het hy die winkel gesluit en dan van huis tot huis gegaan en gevra of hy nie hul fietse kon diens nie. Sodra hy twee kry, ry hy hulle winkel toe en maak hulle die volgende dag reg en lewer hulle dan ook weer af.
In die tweede maand het hulle sy krag en telefoon afgesit.
Hy het in daardie stadium nie eens ’n motor gehad nie en moes elke dag tussen die Paarl en Vasco fietsry.
In 1979 verkoop hy die winkel in die Paarl en open ’n nuwe winkel in Bellville. Dit het harde werk geneem, maar Chris het later winkels in Parow, Kaapstad, Claremont, Wynberg en Somerset-Wes oopgemaak.
In sy lang loopbaan het hulle al alles in die fietsrywêreld beleef: hy het die besigheid verkoop en later teruggekoop.
Sy hele gesin, insluitend sy vrou, Dalene, en hul drie kinders, Annerika, Chris jnr. en Melanie, het ook vir die besigheid begin werk. Hulle het byeenkomste gereël en geborg en sy seun het die eerste aanlyn fietsbesigheid in die land begin.
Chris is ook in 1994 as raadslid verkies, maar het in 1999 homself nie weer beskikbaar gestel nie, “want my besigheid het daaronder gely”.
Intussen is hulle sowat agt jaar gelede deur MoreCorp, ’n filiaal van Old Mutual, oorgekoop. ’
Chris het einde Februarie klaargemaak en die enigste oorblywende familielid by die besigheid, Annerika, maak einde Maart klaar.
Tans het hy en Chris jnr. weer ’n internet aanlynverkope-besigheid “Spot Shop” begin en sluit Annerika einde Maart by hulle aan. Hulle bemark opvoedkundige produkte, speelgoed en baie produkte vir binne die huis, asook buite- en kamptoerusting.
Hy kan baie dinge sê wat hy bereik het, maar hy sê, was dit nie vir sy familie en sy Here se genade nie sou hy absoluut nie die hoogtes in sport en besigheid bereik het nie. Tot vandag nog is hulle ’n baie hegte gesin en sien mekaar daagliks.





