Klaas Esterhuyse

Verskaf

Die 92-jarige oom Klaas Esterhuyse van Panorama is nie net die oudste aktiewe lid van die Parow-gholfklub nie, maar gewis een van die oudste mense in die land wat nog gereeld dié sport beoefen.

Oom Klaas is verlede week kort voor sy 92ste verjaardag heel gepas as ’n lewenslange erelid van die Parow-klub vereer. Hy het in 1992 by die klub aangesluit.

Hy is gebore en getoë in Sutherland en mettertyd het hy, afgesien van sy passie vir gholf, hom ook op die rugbyveld en in sportsoorte soos tennis en pluimbal onderskei. Met sy koms Kaap toe in 1951, het hy as ondernemende losskakel ’n gewilde lid van die destydse Tuine-rugbyklub geword.

Oom Klaas, wat kan spog met ’n voorgee van nege op die gholfbaan, was net meer as 65 jaar getroud met Alida, wat hom verlede jaar ontval het.

Drie kinders is uit die huwelik gebore.

In ’n veelbewoë lewe was hy geseënd om nooit ernstige siektes op te doen of operasies te ondergaan nie.

Oom Klaas is ’n opperste grapjas en ’n gewilde klublid, vertel sy vriend, Norman Coetzee.

En hy is nie ’n man wat weet van stilsit nie. Daarvan getuig sy liefde om gereeld ’n vuurtjie aan te steek vir ’n braai.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article