Net ’n kort tyd ná sy aanstelling in Mitchells Plain het brig. Jan Alexander nou amptelik ’n nuwe pos as stasiekommissaris by Bellville-polisiekantoor aanvaar.
Hoewel sy aanstelling met vrae uit die breër gemeenskap begroet is, word Alexander in ’n brief sterk deur die Bellville-gemeenskap aanbeveel.
Oor sy tyd in Mitchells Plain sê hy: “Dit was goed om die gemeenskapsdinamika te verstaan en daarvolgens op te tree. Bendegeteisterde gemeenskappe verg buitengewone opoffering wat tyd en polisiëring betref.
“Die aantal grutonele sal my altyd bybly, hoewel ek hard probeer om dit te vergeet. Die gemeenskap verduur baie bendeverwante misdaad en verg buitengewone optrede, wat gemeenskapspolisiëring ’n uitdaging maak,”sê hy.
Hy voeg by dat sy nuwe uitdagings anders in Bellville sal wees.
“Ek het geweet in Bellville is die uitdaging nie dieselfde nie, want die gemeenskap is sake-georiënteerd en die polisiëring van buitelanders, dwelmverwante sake, asook die taxibedryf kom eerste. Ek is heeltemal oop vir verplasing en het geen beswaar nie,” sê hy.
Hy is amptelik op Donderdag 14 Maart aangestel.
Hy wens die nuwe stasiekommissaris en bestuur van Mitchells Plain voorspoed toe. “Ek glo dis nog nie te laat vir die gemeenskap om almal hande te vat om ’n verskil te maak nie. Sterke aan die bestuur vir die uitdagings wat voorlê.”





