Die Mfuleni-polisie sê hulle is verheug daaroor dat ’n voorval van ’n vermiste 13-jarige meisie van Wesbank ’n goeie einde gehad het.
Vermiste kinders is die laaste ruk gereeld in die nuus nadat ’n 6-jarige meisie van Saldanha aan die Weskus verlede maand vermis geraak het. Joslin Smith is steeds nie gevind nie, hoewel vyf mense reeds weens haar verdwyning in hegtenis geneem is.
AO November Filander, polisiewoordvoerder van Mfuleni, sê egter die storie van die meisie van Wesbank het gelukkig ’n goeie einde gehad.
“Ons as bestuur van die polisie wil die betrokke beamptes bedank vir hul toewyding en die samewerkende manier waarop hierdie voorval opgelos is. Die polisie, die plaaslike raadslid en verskeie belanghebbendes het aan die soektog deelgeneem.
“Dit het weer eens bewys as almal saamwerk is sukses ’n werklikheid,” sê Filander.
Dit het begin toe die meisie onlangs van haar huis af weggeraak het.
“Toe die saak by die polisie aangemeld is, is ’n omvattende soektog van stapel gestuur met die kinderbeskermingseenheid aan die voorpunt. Familie en vriende, asook die buurtwag en die gemeenskapspolisiëringsforum, het ook begin soek. Hulle kon haar nie opspoor nie en dit is toe dat die Mfuleni-polisie ingeroep is.
Kapt. Granville Arendse en sy misdaadbekampingseenheid het by die soektog aangesluit.
Kapt. Catherine Julius het aan die voorpunt van die soektog gestaan,” sê Filander.
’n Operasionele sentrum is by die Wesbank-gemeenskapsentrum ingerig, met die plaaslike raadslid, Ebrahim Sawant, en ander belanghebbendes aan die spits.
“Met die toestemming van die kind se pa het een van die vaardige vroulike beamptes toegang tot die kind se Facebook-blad verkry. Dit het die polisie na twee vriende, onder wie ’n 13-jarige vriend, gelei. Die vriend het in die Kayamandi- informele nedersetting naby Stellenbosch gebly.
“Arendse het die dringendheid van die situasie besef en ’n span na Kayamandi gestuur. Daar het hulle die 13-jarige seun gevind,” sê Filander.
Volgens Filander het die polisie die kind in die 13-jarige seun se hokkie gevind.
“Sy is ongedeerd gevind, maar is steeds na die Karl Bremer-hospitaal geneem waar sy deur die kinderbeskermingseenheid ondersoek is. Met die inligting tot ons beskikking blyk dat sy vrywillig haar ouerhuis verlaat het,” sê Filander.
Hy was vol lof vir die samewerking van almal om die kind te vind, maar het ook ’n waarskuwing:
“Hoewel ons bly is sy is gevind, moet ons weer daaraan herinner word dat die taak om kinders te beveilig nie ophou nie. Ouers en voogde moet daaraan werk om oop kommunikasie met hul kinders te hou, hulle op te voed in veiligheid en om verdagte omstandighede aan te meld,” sê hy.




