Lede van die plaaslike buurtwagte loer oor die brug waaronder haweloses in Wyk 1 skuil.


Die Stad Kaapstad se wetstoepassingsdepartement, die polisie, private sekerheidsmaatskappye en plaaslike buurtwagte het onlangs ’n reuse-optrede in Wyk 1 gedoen.

Deon Oosthuizen, adjunkvoorsitter van die Monte Vista Plattekloof Glen-buurtwag, sê die optrede was ’n sukses.

Dit is op Sondag 24 Maart in groot dele van Wyk 1 uitgevoer, insluitend Plattekloofweg en Olienhoutrylaan, sowel as Uys Krige-rylaan.

“Ek verneem die raadslid Cheryl Visser het verskeie klagtes ontvang dat wetstoepassingsbeamptes nie op klagtes in die wyk reageer nie.

“ ’n Vergadering is deur die raadslid belê, tesame met die hoofinspekteurs van die verkeersafdeling en wetstoepassing, onsself en die PWP-buurtwag, District Watch, die departement van maatskaplike ontwikkeling en Fidelity ADT.

“Nadat verskeie kwessies uitgelig is, veral die misbruik van drank in die openbaar en in ons openbare parke, is daar besluit om ’n hoë-sigbaarheidspatrollie uit te voer om sodoende enige oortreders van die wet aan te keer,” sê Oosthuizen.

Die spanne, onder meer die verkeersdepartement, wetstoepassing, metropolisie, polisie, die buurtwagte PWP en Tygerdal, die raadslid, die sekerheidsmaatskappye Fidelity ADT en District Watch, sowel as maatskaplike ontwikkeling, het by die Monte Vista Plattekloof Glen-buurtwag se hoofkwartier byeengekom.

Die Stad se eenheid gemoeid met straatmense was ook deel van die operasie.

“Ná ’n kort gesprek het hulle die gebied se parke gepatrolleer, waar ons positiewe gesprekke met van die straatbewoners gevoer het.”

Sektore bedank

Visser het dit by navraag beaam.

“Verskillende spanne het saamgestaan en ’n paar parke en openbare oop ruimtes besoek. Aandag is gegee aan gebiede waar daar klagtes van alkoholgebruik en ander oortredings is. Dit was baie spesiaal en hartverblydend om die positiewe reaksie te sien. Ek wil graag dankie sê aan almal wat hul tyd opgeoffer het om deel van die optrede te wees,” sê Visser.

Visser sê die inisiatief het alle verwagtinge oortref en bewys dat daar goeie spanwerk tussen die veiligheidsektore en inwoners is.

“Samewerking en goeie verhoudings help om ’n veiliger omgewing vir almal te skep. Ek wil graag almal bedank wat deelgeneem het. Die terugvoering wat ons ontvang het, is dat die gemeenskap dit baie bemoedigend en positief ervaar,” sê sy.

Oosthuizen het ook gesê die optrede was ’n oorweldigende sukses. “Die tentoonstelling van mag deur veral wetstoepassers was goed om in ons buurt te aanskou en het ’n groot en positiewe impak op ons gemeenskap.”

Die Tygerdal-buurtwag is ook deur die spanne uitgehelp, nadat probleemgebiede ook daar uitgewys is.

“Die tentoonstelling van mag wys ook aan voornemende misdadigers dat die buurtwagte wel die Stad se ondersteuning geniet, en dit bemagtig ons.

“Misdaadvoorkoming is ’n proaktiewe benadering en ons verwelkom die hulpbronne wat tydens die operasie aan ons beskikbaar gestel is,” sê Oosthuizen.

Hy sê operasies soos hierdie help om die gaping tussen misdaadvoorkomingsgroepe en die regeringsdepartement te oorbrug, en help die gemeenskap om die mense agter die uniform te sien. Inwoners kan oortredings aanmeld by die Stad Kaapstad by 021 480 7700 (vanaf ’n selfoon) of 107 (vanaf ’n landlyn).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article