Earl Junior, wat sy vis langs Hindle-weg verkoop het, het tussen R200 en R250 vir ’n snoek gevra.FOTO: Brenden Ruiter


As jy hier lees, dan is jou vingers waarskynlik steeds geel van al die kerrievis wat jy die afgelope naweek geëet het.

Kerrievis, of soos die Kapenaars sê pickled fish, is ’n tradisionele gereg wat veral oor Paasnaweek geëet word.

Oor die jare het verskillende teorieë voorgekom oor waar die tradisie nou eintlik sy oorsprong het, maar almal is dit eens dat die invloed van slawe uit die Ooste, veral ten opsigte van die speserye wat gebruik word, ’n groot aandeel daaraan het.

Weke voor die aanvang van Paasnaweek begin Kapenaars reeds oor resepte praat. “Wiet djy, die ywe is nowadays soe duur,” sal die een sê. “Oe, djy kanit weer sê! Het djy al vis?” sal die ander vra. “Noggie, hulle vra mos weer R500 virrie Djirre se vis!”

Ja, visse wat gewoonlik tussen R100 en R150 kos se pryse het skielik verdubbel en in sommige gevalle met meer gestyg.

TygerBurger het ’n week voor Paasnaweek ’n onwetenskaplike steekproef gedoen deur by vyf straatverkopers te vra wat hul vis kos.

Verlede Woensdag, twee dae voor Goeie Vrydag, het die pryse by vier van die verkopers verdubbel. By een bakkie het ’n vrou, wat op die nippertjie nog vis wou koop, uitgeroep: “’n Mens sal sweer die vis het met ’n aeroplane hier aangekom, so duur is dit.”

En soos Suid-Afrikaners nou maar is, word daar op sosiale media groot gespot oor die prys van vis. Een ou skryf hy het eenkeer oor ’n Paasnaweek by ’n nuwe meisie se ouerhuis gekuier toe hy uit die kombuis hoor: “Skep net vir hom van die uie en die sous; julle verhouding is mos nog nie te ernstig nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article