Malinda Lennox sê met die stygende pryse van kos raak dit egter al hoe moeiliker vir veral bejaardes om gebalanseerd te eet.


“Gesonde etes is belangrik vir ouer mense om leefstylsiektes te voorkom en te beheer,” meen Malinda Lennox, ’n geregistreerde dieetkundige by die Feedem Group.

Sy het op Dinsdag 2 April ’n inligtingspraatjie vir die seniors by die Ruyterwacht Senior Sentrum aangebied.

Volgens Lennox is daar ’n behoefte geïdentifiseer aan inligting aangaande die aankoop en voorbereiding van bekostigbare etes wat inwoners vir hulself kan voorberei.

Sy sê met die stygende pryse van kos raak dit egter al hoe moeiliker vir veral bejaardes om gebalanseerd te eet.

Beperkte begroting

  • Vervang gereeld duurder proteïne met vegetariese opsies soos lensies, boontjies, eiers, melk, grondboontjiebotter en soja.
  • Kies styselkos met ’n hoër veselinhoud – nie net is dit gesonder nie, maar dit hou ’n mens ook langer vol. Voorbeelde sluit in hawermout, volgraanbrood en stampkoring.
  • Kry ’n groep vriende bymekaar wat saam groente en vrugte op grootmaat koop om van spesialeprys-aanbiedinge gebruik te maak.
  • Kook genoeg vir twee tot drie maaltye om krag of gas te bespaar.
  • Soms is dit meer ekonomies om vleis- of hoendersnitte sonder been te koop, waarvan alles geëet kan word, eerder as snitte met baie been en vet.
  • Gevriesde groente bevat steeds goeie vitamiene, minerale en vesel, en is soms meer bekostigbaar as die vars alternatief.
  • Maak sop van groente wat begin verlep of wat oorbly ná ’n ete.
  • Beplan etes en inkopies sodat geen vars kos vermors word nie.
  • Probeer nuwe resepte wat ingemaakte vis, lensies, bone en groente bevat.

“Daar is heelwat resepte aanlyn beskikbaar, wat sal help met nuwe idees vir bekostigbare etes,” verduidelik Lennox.

Sedert 2022 is Feedem die spysenieringsvennoot van die sentrum en voorsien gebalanseerde middagetes aan bejaardes by die sentrum.

Besoek www.feedem.co.za vir meer inligting oor die dienste wat die Feedem Group landswyd lewer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article