Twee atlete van die Hoërskool De Kuilen en die DK Hamergooi-akademie het Saterdag saam op die podium geëindig in die hamergooi vir seuns o.17 by die Suid-Afrikaanse Skole-atletiekkampioenskap, wat in die Dal Josafat-stadion in die Paarl gehou is.
Eben Jacobs, wat ook verlede jaar die kampioen in dié item was, het weer die goue medalje gewen.
Sy gooi van 66,93 m was ’n bietjie korter as sy persoonlike beste en Wes-Kaapse rekord van 67,80 m, wat hy by die Wes-Kaapse skoleatletiekbyeenkoms behaal het.
Dié twee afstande is die beste en naasbeste wat nóg vanjaar deur ’n o.17-hamergooier in die land gegooi is.
Leon Spies, afrigter van die DK Hamergooi-akademie, sê Eben se goue medalje het vergoed vir die teleurstelling wat hy by die ASA Junior Kampioenskap einde Maart in Pretoria beleef het toe hy ná die eerste ronde uitgeval het.
Zachary Roberts het Saterdag die bronsmedalje met ’n persoonlike beste gooi van 61,04 m verower.
Spies sê Zachary het ’n droomseisoen beleef. “Nie net het hy by die ASA Kampioenskap ook ’n bronsmedalje verower nie, maar hy het ook sy persoonlike beste van die vorige seisoen met ’n ongelooflike 13 m verbeter.”
Rus
Dit is nie die eerste keer dat die DK Hamergooi-akademie dubbele verteenwoordiging op die podium by die nasionale skolekampioenskap het nie.
Eben en Zachary volg in die voetspore van twee ander uitblinkers van die DK Hamergooi-akademie, Graydon Fabe en Carel van der Merwe, wat in 2019 die o.17-hamergooi oorheers het en onderskeidelik nommer een en twee in die land was. “Dit help natuurlik baie dat Graydon deel is van die akademie en dat die twee jongmanne elke dag saam met hom kan oefen,” sê Spies.
Behalwe vir Graydon, wat nog van 18 tot 20 April aan die ASA SA Senior Kampioenskapsbyeenkoms gaan deelneem, gaan al sy atlete nou ’n welverdiende ruskans vir sowat ’n maand neem, vertel Spies.
“Daarna begin hulle met ’n strawwe winterprogram, omdat die meeste van hulle volgende seisoen met ‘n swaarder gewig moet gooi,” sê hy.





