Op ’n koue middag in die hart van die pandemie het hulle met een pot sop 12 mense gevoer.
En in die jaar wat volg het dié syfer nou tot amper 200 gestyg.
Met ’n hart vir die gemeenskap en as ’n antwoord vir ’n gemeenskap wat honger ly, is die nie-winsgewende organisasie Isiah Community Development gestig.
Die stigter, Rachel Abrahams, sê hoewel mense dink Westridge-inwoners kan in hul eie behoeftes voorsien, is daar baie armoede reg oor Mitchells Plain.
“Ons het met selfbefondsing begin met ’n paar skenkings van die kerkgemeenskap, maar tot dusver vanjaar het ons nie enige skenkings gekry nie,” sê sy. “Ons sal graag elke week kos wou uitdeel, maar vir nou kan ons net doen wat ons kan met die skenkings wat ons kry.”
Met ’n bydrae van die kerk voer hulle tot en met 200 inwoners elke tweede Donderdag by die perseel van Mitchells Plain United Church in Park-rylaan.
Klein begin
“In 2021 het ons vrouevereniging besluit ons wil iets vir die gemeenskap doen. Ons het toe begin met een klein pot en 12 mense by die kerk gevoed. Daarna het ons ’n groter pot en later nóg ’n groter een gekoop,” sê Abrahams.
“Mense is gou om te sê by ons is nie honger mense nie, maar jy kan sien in die ry dat daar baie arm en honger mense is. Daar is mense om ons wat in die bos bly. Elke week is dit ’n nuwe ervaring.”
’n Groep vroue kook nou by die kerk en voer die breë gemeenskap tuisgemaakte maaltye.
“Daar was baie tye dat ons niks gekry het nie. Dit was traumaties, want ek weet daar is mense wat dit nodig het. Ek het toe op my knieë gegaan en God gevra vir hulp, en so het ons hulp gekry.”
Sy herhaal hoe hulle reg oor die provinsie moes ry vir skenkings, maar het dit gedoen vir die gemeenskap.
“Die nood is groot, en ons sal graag meer gereeld kos skenk vir ons gemeenskap. Daar is mense wat in die ry hul kos opeet en dan weer kom skep vir kinders of vir later. Ek kan nie nee sê nie, want mense is honger en hoe sê daardie ma vir haar kinders sy het nie kos vir hulle nie? Ons skep dit vol.”
Die organisasie benodig groente en stapelvoedsel soos rys en pasta. Hulle aanvaar ook geldelike skenkings
As jy iets kan skenk, kontak Rachel Abrahams by 082 881 3984 of rachelabrahams12@gmail.com of Hilda Roberts by 066 155 9710 of robertshilda87@gmail.com.





