Vyf mense is verlede week beseer in ’n ongeluk in Gunners-sirkel in Epping, naby Goodwood en Elsiesrivier, toe twee voertuie vermoedelik trompop gebots het.
Sommige passasiers het ernstige beserings opgedoen, terwyl ander lig beseer is.
’n Foto van die ongelukstoneel is op Life Emergency Medical Services (EMS) se sosiale media geplaas.
Een gebruiker se kommentaar daarop lees as volg: “Dit is ’n aaklige pad; voertuie steek mekaar altyd verby, ander ry teen die aankomende verkeer en dan is daar mense, kinders en honde van die nabygeleë informele nedersetting wat oor die pad hardloop. Ek ry vier keer per dag hier, en dit is uitputtend en vreesaanjaend.”
Die Stad Kaapstad se brand-en-reddingsdienste het die ongelukstoneel verlede Woensdag besoek. Jermaine Carelse, woordvoerder, sê die voorval is om 17:40 aangemeld.
“Brandweerdienste van Milnerton en Epping het die toneel besoek en daar is bevind dat ’n ligte afleweringsvoertuig en ’n ligte voertuig daarby betrokke was.
“Altesame vyf mense het verskeie grade van beserings opgedoen. Verskeie nooddienste was ook op die toneel, insluitend die Stad se verkeersdienste, ambulanse en die polisie,” sê Carelse.
Hy sê die vyf passasiers is na gelang van hul beserings na ’n nabygeleë mediese fasiliteit vervoer. “Die pad is net ná 19:00 opgeruim. Die oorsaak van die botsing word nog ondersoek,” sê Carelse.





