Bluegum United-sokkerklub in Bonteheuwel se geliefde afrigter sterf

Ricardo Rass is hier op sy vyftigste verjaarsdagpartytjie.


Die spelers, ondersteuners en die bestuur van die Bluegum United-sokkerklub in Bonteheuwel is in skok nadat die legendariese afrigter van die klub, Ricardo Rass, Saterdag skielik gesterf het.

Rass het van die sokkerveld af tuis gekom en inmekaar gesak. Daar is toe met hom na ’n nabygeleë hospitaal gejaag, waar hy beswyk het.

Aslam Baker, woordvoerder van die klub, sê almal is verslae gelaat deur Rass se heengaan.

“Hy was nie net ’n gesiene man by ons klub nie, maar was ’n gerespekteerde in die breër sokkergemeenskap. So baie mense is deur sy dood geraak dat baie wedstryde van ander klubs wat nog Saterdag sou plaasvind, afgestel is,” sê Baker.

‘Meneer Bluegum United’

Volgens Baker was Rass nie net ’n sokkerman in murg in been nie, maar het hy ook ’n hart vir sy gemeenskap gehad.

“Hy was veral daarop ingestel om spelers te help om suksesvol te wees. As daar ’n jongmens was wat hulp nodig gehad het, was hy altyd daar, al was daardie persoon ook ’n lid van ’n ander span. Die meeste van die spelers wat tans in die senior span is wat hy afgerig het, kom ook as juniors deur sy hande. Hy was so lank deel van die klub dat ’n mens amper kan sê hy was Meneer Bluegum United,” sê Baker.

Medelye het ook op sosiale media ingestroom.

Angus McKenzie, plaaslike raadslid, het sy hartseer oor Rass se sterfte uitgespreek.

“Rass was ’n redder vir baie jongmense en het tyd, geld en moeite ingesit om seker te maak dat kinders sokker speel eerder as om by bendes en met dwelms betrokke te raak. Hy sal voorwaar gemis word en sy sterfte sal ver en wyd gevoel word. Ons harte gaan uit aan die bestuur, spelers en breë sokkergemeenskap. Dis regtig ’n hartseerdag vir die hele Bonteheuwel,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article