Die beoordelaar Le Roux van Vuuren staan by Pedro Kruger, seremoniemeester, en Lucas van Vuuren, ’n lid van die sakekamer.


Van die lekkerste potte nóg is by dié jaar se gewilde potjiekoskompetisie van die Tygerberg-Sakekamer opgedis, wat oudergewoonte op 19 April by die Hoërskool Stellenberg gehou is.

Altesame 18 plaaslike sakeondernemings uit die noordelike voorstede van Kaapstad het mekaar in goeie gees die stryd aangesê vir die beste rooivleis, beste witvleis en beste potpoeding.

Die veld by die skool was ’n warboel van aktiwiteit en teen vroegmiddag het die potte al heerlik geprut om betyds klaar te wees vir beoordeling.

Met die weer wat saamgespeel het, het deelnemers hulself verlustig in die kaperjolle op die veld, wat vanjaar deur die immergewilde Pedro Kruger as seremoniemeester aangevuur is.

Die drie hoofbeoordelaars, die akteur Anrich Herbst, bekende sjef Jenny Morris en TV-kokkedoor Le Roux van Vuuren, is bygestaan deur drie hulpbeoordelaars van Northlink-kollege se spyseniersafdeling, Annien Lategan, Liezl Cornelissen en Retha Swart.

Die hoofborg vir die geleentheid was TJ’S Lekka Braai en ’n groot verskeidenheid nuwe borge soos Leopards Leap, Checkers en Food Lovers Market het vanjaar aan boord gekom.

Sunel Beeselaar, voorsitter van die Tygerberg-Sakekamer, sê vanjaar se kompetisie het uitgestaan.

“Dit was ’n fees en vreugde om vir Pedro hier te hê, en die gees was aansteeklik. Met groot, nuwe borge wat aan boord gekom het, was dit moontlik om ongelooflike pryse in gelukstrekkings reg deur die dag weg te gee,” sê Beeselaar.

“Beoordelaars het ook in my oor kom fluister dat dit die lekkerstes was wat hulle nog geproe het.”

Die wenners van die rooivleispot was Dole SA en die wenners van die witvleispot was Logwin Air & Ocean, Cape Town. TJ’S Lekka Braai het gesorg vir die beste potpoeding en Dole SA was die wenners van die geheime chef-uitdaging.

Pryse vir gees het gegaan aan Radio Tygerberg en Nedbank. terwyl Dole SA die prys vir die besgeklede span ontvang het. Business Partners het die pryse ontvang vir die beste opdiening van hul pot.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article