Agt laerskole in Belhar neem op Saterdag 25 Mei en Saterdag 1 Junie aan die tweede rugbytoernooi by die Hoërskool Excelsior in Belhar deel.
Die skole wat gaan deelneem, is die laerskole Gardenia, Accordion, Belhar, Erica, Riebeek, Matroosberg, Belvue en Symphony.
Die toernooi is verlede jaar die eerste keer aangebied onder leiding van Bronson Weir, sportafrigter by Excelsior, en ’n voormalige leerder van Accordion om laerskoolleerders die kans te gee om rugby te speel.
“Belhar is veral bekend vir sokker en nie eintlik vir rugby nie. As jy deur die strate van Belhar ry, sal jy sien kinders skop sokkerballe of tuisgemaakte balle in die straat rond en dis hoekom ek besluit het om ’n rugbytoernooi aan te bied.
“Dit is ook nie ’n nuutjie om kinders pouses of voor skool balle op die skoolterreine te sien rondskop om van hul oortollige energie ontslae te raak nie.
“Accordion, my alma mater, het nog nooit rugby gespeel nie en ek het moeite gedoen om ’n span van die skool te laat deelneem. Die entoesiasme waarmee die personeel en die leerders die rugbytoernooi omarm het, was verblydend en hulle was die spreekwoordelike buiteperd by die toernooi,” sê Weir.
Verlede jaar se toernooi is deur Gardenia gewen en die kaptein van die span, Xavier Jaftha van Delft, het só indruk gemaak dat hy ’n studiebeurs van die private seunskool Hilton Kollege in KwaZulu-Natal verower het en tans daar sy skoolloopbaan voortsit.
Die toernooi word op ’n uitklopbasis beslis en agt seunspanne en vier meisiespanne neem deel.
In sy toespraak het die hoofspreker, Darryl Jacobs, direkteur-generaal by die Wes-Kaapse departement van landbou, gesê die rugbytoernooi gee nuwe hoop vir spelers wat vanjaar gaan deelneem.
“Ek het gaan naslaan op Wikipedia wat oor Belhar gesê word. Belhar word eerstens beskryf as die plek waar die Belhar-belydenis geformuleer is. Daarna word dit beskryf as ’n woonbuurt wat deur die apartheidsregering beskikbaar gestel is vir die sogenaamde bruinmense (coloured people) om daar te woon, maar die naam word ook afgelei van die Afrikaanse woord ‘belofte’.
“Dis met laasgenoemde in gedagte dat ek almal wat by die toernooi betrokke is, wil prys vir die inisiatief om hoop of belofte aan die rugbyspelers te bring deur net te kyk wat met Xavier gebeur het. Elkeen van hulle kan die volgende Xavier wees,” sê Jacobs.
Dit is ook algemeen bekend dat al die maatskaplike euwels soos dwelms, bendegeweld, werkloosheid, tienerswangerskappe, vroeë skoolverlaters en enkelouers deel is van die breë Belhar-gemeenskap.
“Ondanks al die struikelblokke is daar tog enkelinge of organisasies in die gemeenskap wat ’n verskil probeer maak in een kind se lewe. Baie van die leerders loop heeljaar met een paar skoene, wat vodde gedra is, of kom kaalvoet skool toe. Hulle kry soms net die broodjie by die skool, want die meeste skole is skole waar geen skoolgeld gevra word nie, omdat ouers dit nie kan bekostig nie.
“Dis waarom ek die rolspelers van die toernooi prys vir hul inisiatief, wat nie sonder borge gedoen kan word nie. Dis belangrik dat almal inkoop in sulke inisiatiewe in gemeenskappe, wat sukkel om hoop aan ons kinders, die toekomstige leiers, te gee,” sê hy.
Die feit dat meisiespanne ook gaan deelneem, is in ooreenstemming met SA Rugby se inisiatief om vrouerugby in die land te bevorder.
“Die agt skole wat deelneem se afrigters sit alles in om die beste uit die spanne te haal en hulle moet ook geprys word.
“Die vaardighede is nog nie op standaard nie, maar die entoesiasme waarmee die spanne die oefenwedstryde ter voorbereiding vir die toernooi aanpak, is ’n riem onder die hart.
“Die gogga het Accordion so gebyt dat hy sedert sy deelname verlede jaar aan elke toernooi moontlik waarvan hy gehoor het, wou deelneem – of dit nou sewes of vyftiens was, want hy wil Gardenia vanjaar onttroon,” skerts Weir.





