Die NG kerk Kuilsrivier-Suid, oftewel Suidkerk, beoog om vanjaar as deel van sy Winterhoop-projek 1 000 rooi “omgee-komberse” uit te deel.


Die NG kerk Kuilsrivier-Suid, oftewel Suidkerk, beoog om vanjaar as deel van sy Winterhoop-projek 1 000 rooi “omgee-komberse” uit te deel.

Vir Julie word ’n Hoop-omgee-byeenkoms beplan, waar 600 minderbevoorregte bejaardes van Kuilsrivier en omgewing met ’n musiekkonsert, ’n snoekete en ’n rooi kombers bederf gaan word. Die geleentheid word moontlik gemaak in samewerking met die VGK Sarepta, die NG kerk Velddrif en die Kuilsrivier-polisie.

Suidkerk vier vanjaar 60 jaar van genade, sê Karen Theunissen, bedieningsbestuurder by Suidkerk. “Dis juis na aanleiding van die 60 jaar dat ons besluit het om 600 bejaardes by ons Winterhoop-omgeeprojek in te sluit.”

“Die gemeenskap van Kuilsrivier kom gereeld bymekaar en knip en rol die rooi omgee-komberse. Elke kombers kry ’n kaartjie met ’n baie spesiale boodskap, wat Jesus se liefde na die ontvanger uitdra,” sê Theunissen.

Gala en verjaarsdag

As deel van die kerk se fondsinsameling vir die Winterhoop-projek word daar op Saterdag 8 Junie ’n Winterhoop-galageleentheid met ’n driegangete aangebied, waar Jak de Priester gaan optree.

“Daar is nog kaartjies beskikbaar, vir besighede of individue wat belangstel om deel te raak van Winterhoop. Enige ander donasies vir ons rooi komberse of ten opsigte van die Hoop-omgeebyeenkoms sal opreg waardeer word,” sê Theunissen.

“Op Sondag 9 Junie word ons feesdiens en ete gehou. Daar gaan saam gekuier en gesels word met ou en nuwe lidmate en leraars. Die erediens is gratis en etekaartjies is aanlyn op die kerk se webblad te koop.”

Kontak bestuur@suidkerk.org.za of 078 704 2245 vir donasies of besprekings vir die galageleentheid met Jak de Priester.

Besoek https://suidkerkwinkel.company.site/60-ste-Verjaardag-ete-p650940536 om etekaartjies te koop vir Sondag 9 Junie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article