Die span van Alexander Swart Eiendomme het soos gebruiklik diep in hul sakke gedelf by Woensdagaand se wynveiling op die Brack. Op die foto staan (van links) DC Uys, Ryan Olivier, Britz Coetzee, Stefan Engelke, Juandré Olivier, Rowan Alexander en Johan Marx.


Die jaarlikse wynveiling van die Laerskool Brackenfell was weer eens ’n fees met die skool se getroue ondersteuners wat Woensdagaand in groot getalle opgeruk het na die skool om hul hande vir die Brackies oop te maak.

Bekende name in die plaaslike sakewêreld soos Alexander Swart, Bossa, Buzybuy, Copytype, Halfway Ford, Henties, Integrit, Lawnmower Mecca, L.O. Rall, Marathon Insure, Millennium Flooring, Simanyene, asook Auto and Bus, het as tafelborge opgetree vir die 150 gaste wat die geleentheid bygewoon het.

Beyerskloof Wines was vanjaar weer oudergewoonte die grootste bydraer tot die Brackies se wynskat, terwyl die Zevenwacht-wynlandgoed, Mont Pellier in Tulbagh, Groenland Wines, Van Loveren, Kanonkop en Simonsig saam met verskeie ander kelders in die omgewing die skool se wynveiling met van hul beste wyne voorsien het.

Die Brackies se ouers het ook nie op hulle laat wag nie en die skool oorval met wynskenkings vir die veiling en ’n fenomenale bydrae tot ’n baie suksesvolle byeenkoms gelewer. Die waarnemende skoolhoof, Rijan Nel, het sy waardering uitgespreek vir die ouers se spontane en onselfsugtige ondersteuning van die skool.

Vierde wynveiling

Dit was vanjaar die Brackies se vierde wynveiling wat geld voorsien vir bou- en instandhoudingsprojekte by die skool, wat in sy 119de bestaansjaar is. Indien nie die oudste nie, is die Brackies een van die oudste instellings in die dorp en die moederskool van onder meer die Hoërskool Brackenfell, asook die Laerskool Bastion.

Gedurende die afgelope paar jaar is die geld aangewend vir onder meer die oprigting van die skool se spoggerige Elfreda Olivier Graad R-kampus en ’n pragtige astro-hokkieveld, terwyl die skool daarmee sy eie water- en kragvoorsieningsprojekte suksesvol aangepak het.

Al die ingange na die skool word tans opgeknap. Die instandhouding van die dakke, mure, vloere en sportgeriewe vind voortdurend plaas en kos al hoe meer. Sonder gereelde fondsinsamelings sou dit nie vir die skool moontlik wees om al die nodige instandhouding en broodnodige vernuwings aan te pak nie.

Daarby is die skool is ook as werkgewer verantwoordelik vir die vergoeding van ’n groot getal personeellede.

Daarsonder sou die skool nie 1 600 leerders kon akkommodeer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article