By die onlangse toekenningsaand van Hollywoodbets Bellville-krieketklub het die voorsitter, Selwyn van Noordwyk, die opwindende aankondiging gemaak dat die klub in die nuwe seisoen ’n blinde krieketspan gaan inskryf wat onder sy vaandel sal meeding.

Dit is die eerste klub binne die Westelike Provinsie Krieketvereniging en slegs die derde klub in Suid-Afrika wat die opsie bied aan blinde krieketspelers om te kan meeding as ’n volwaardige span van ’n krieketklub.

Dit bring mee dat die spelers die geleentheid gebied word om volwaardige lede van ’n klub te kan wees en die gevoel te kan kry dat hulle deel is van die krieketfamilie en die samelewing in sy geheel.

Uitreikprogram

’n Uitreikprogram sal ook in plek gesit word om persone met ’n siggestremdheid aan krieket bekend te stel.

By die geleentheid het die gasspreker, Sergil January, ’n voormalige blinde Protea-krieketspeler, sy lewensverhaal en die rol wat krieket in sy lewe gespeel het nadat hy blind geword het, met die gaste gedeel.

Dit is ook bekend gemaak dat vrouekrieket weer in die nuwe seisoen deel sal wees van die klub se aktiwiteite. ’n Vrouespan sal in die komende seisoen in die plaaslik liga meeding.

By die geleentheid is spelers en lede vir hul bydra gedurende die seisoen vereer.

Verskeie medaljes is uitgereik aan spelers wat honderdtalle aangeteken het of vyf paaltjies in ’n beurt geneem het.

Trofees vir beste kolwer, bouler en mees veelsydige speler in elke span is toegeken.

Hooftoekennings
  • Sportpersoonlikheid: Marcus Fourie en Deon Rossouw het die loure gedeel;
  • Beste span: 5de span;
  • Mees toegewyde speler: Cody Nieuwoudt;
  • Mees belowende speler: Tiaan Serdyn;
  • Beste vordering: Ethan Vermeulen;
  • Voorsitterstoekenning: Trevor McLachan.
Stuur ’n e-pos na bellvillecricketclub@gmail.com om by die klub betrokke te raak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article