Plaaslike wyksraadslede het die pogings van self-verklaarde gemeenskapsleiers om by ’n projek van die Stad Kaapstad in te meng beskryf as opportunistiese politiekery wat grens aan afpersing.
Ebrahim Sawant, raadslid vir Wyk 19 en Wouter de Vos, raadslid vir Wyk 11, het verlede week reageer op ’n verklaring wat uitgestuur is onder die opskrif: “Community-led initiative for local job opportunities.”
Die konstruksie van niegemotoriseerde fasiliteite van die Stad Kaapstad se sogenaamde NMT-projek se tweede fase in die Kuilsrivier-gebied, het in Maart vanjaar begin. Ná verwagting sal die werk teen 30 Junie 2025 voltooi wees.
Die NMT-projek sluit die bou van nuwe sypaadjies; die rehabilitasie van reeds bestaande sypaadjies; die verbetering van nabygeleë parke met sagte en harde landskapering; en die oprigting van straatligte binne Wyke 11 en 19 in.
Sosiale media
Die voorbereidingswerk vir die bou van ’n paadjie vir beide voetgangers en fietsryers al langs die kanaal af, het onlangs begin, maar die werk is twee weke gelede onderbreek.
Op Woensdag 12 Junie het Louis Arendse in ’n plasing op sosiale media geskryf: “Ons as gemeenskapsleiers van Wyk 11 en 19 het die projekte in ons gebiede gestop vandag waar die illegal foreigners werk, terwyl ons gemeenskappe werkloos is.”
Gemeenskapslede is genooi om dieselfde middag oorkant ’n winkel in Sarepta bymekaar te kom. “Bring jou ID saam om te registreer vir werksgeleenthede. Ondersteun die aksies as jy werkloos is!” lui die plasing.
Verlede Woensdag (19 Junie) is mense uitgenooi om die oggend by die kanaal naby die moskee bymekaar te kom. Met TygerBurger se aankoms later die oggend was ’n klein groepie mense nog teenwoordig wat met ’n verteenwoordiger van die kontrakteur in gesprek was. Polisielede was teenwoordig om ’n oog te hou.
Arendse het aan TygerBurger gesê dat ’n ooreenkoms met die kontrakteur bereik is. Hy het Woensdagaand bogemelde verklaring aangestuur waarin hy na homself as die woordvoerder van die bestuurskomitee (steercom) verwys, wat volgens die verklaring gestig is om met stadsamptenare en die hoofkontrakteur te skakel weens kommer oor werksgeleenthede vanuit die gemeenskap.
Die verklaring meld dat die raadslede gesystap word en dat die “gemeenskap en die kontrakteur” op die volgende ooreengekom het: direkte kommunikasie tussen die bestuurskomitee en die kontrakteur; dat die werk sal voortgaan met agt plaaslike werkers en vier subkontrakteurs; bykomende plaaslike werkers soos benodig word; ten minste 70 tot 80% plaaslike arbeid by al die werksplekke van die spesifieke kontrakteur in Wyk 11 en 19; ’n bestuurskomitee met ses verteenwoordigers per wyk wat maandeliks sal vergader; dat die bestuurskomitee op hoogte gehou sal word van subkontrakteursgeleenthede; en vir die uiteensetting van ’n databasis van plaaslike vaardighede en sektors.
Onwettig
Sawant het op Woensdag 12 Junie die eerste keer hiervan kennis geneem toe die werk gestop is.
“Toe ek daar kom, het die kontrakteurs ophou werk vir hul werkers se veiligheid. Dit was ’n groepie van so 15 tot 18 mense wat gelei word deur ’n paar sogenaamde gemeenskapsleiers.
“Seker driekwart van hulle het T-shirts van die PA (Patriotic Alliance) aangehad. Hul doen hul voor as die groot leiers wat nou werk wil kry vir sogenaamde bruinmense.”
Sawant sê die groep wou met die kontrakteur onderhandel wat aan hulle genoem het dat hulle met die raadslid moet gesels. Hy sê hy het voorgestel dat hulle die volgende dag by die munisipale kantore vergader, maar versoek dat die werk moet voortgaan omdat daar oop slote was wat toegegooi moes word.
“Hulle het geweier dat die werk kan aangaan en die kontrakteurs was skrikkerig.” Die kontrakteur moes toe na ure ’n plan maak.
Sawant sê Stadsamptenare en die kontrakteur was by die vergadering op Donderdag 13 Junie teenwoordig.
“Die werk is al drie maande aan die gang. Daar was vooraf konsultasies en daar is ook plaaslike arbeid betrokke. Ons het aan hulle verduidelik wat hulle doen, is onwettig.
“Onthou, hulle is een groepie, môre kom nog ’n groepie en oormôre nog een. Ons praat met almal maar as ons ’n vergadering het, gee ons inligting vir die hele gemeenskap.”
“Nou maak hulle ’n valse verklaring oor ’n spesiale ooreenkoms met die kontrakteur, terwyl ons in die gesamentlike vergadering ooreengekom het oor wat toelaatbaar is en wat nie.”
Sawant en De Vos noem die prosesse wat gevolg is in hul gesamentlike verklaring, wat verlede Donderdag uitgereik is.
Dit meld dat plaaslike werkers vanuit Sarepta en Kalkfontein vanaf die Stad se databasis betrek is. Die kontrakteur en subkontrakteur het ook aan die Stad se minimum vereistes voldoen.
Omdat meer werkers benodig word met verloop van die projek, het die kontrakteur reeds begin met indiensneming van plaaslike werkers op die Stad se databasis.
Die verklaring meld dat die groepering ingelig is dat die lys mense wat hulle saamgestel het om in diens geneem te word, nie toegelaat kan word nie omdat dit ander werksoekers wat reeds op die Stad se databasis geregistreer is, sal benadeel. “Inligting oor enige projekte sal met die hele gemeenskap gedeel word en nie net met hierdie groepering nie. Dit is absoluut onwaar dat die kontrakteur ingestem het tot 70 tot 80% plaaslike werkers en dat hulle slegs met hierdie groep sal saamwerk,” lui dit verder.
Sawant en De Vos sê dit is jammer dat individue die uitdagings van die mees weerbare lede van die gemeenskap misbruik om hul eie selfsugtige politieke agendas te dryf.
Die raadslede het hul verklaring afgesluit met ’n onderneming dat hulle die gemeenskap op hoogte sal hou van projekte in die Stad se nuwe boekjaar.




