’n Motoris het onlangs teen ’n heining in Richwood, wat dié gebied van die N7-snelweg skei, vasgery toe sy ’n vermeende rower agternagesit het.
Die voorval het op Woensdag 19 Junie in Woodlands-rylaan in Richwood, waarlangs die heining geleë is, gebeur.
Geringe skade is aan die heining aangerig, maar dis dieselfde dag weer deur buurtwaglede en private sekerheidsbeamptes herstel.
Volgens Glenn Marais, voorsitter van die Richwood-buurtwag, se inskrywing op sosiale media het die verdagte ’n vrou probeer roof deur haar met ’n mes te dreig.
“Sy het hom agternagesit en teen die heining gebots nadat sy hom getref het. Hy het ongelukkig weggekom,” lui die inskrywing.
Die buurtwaglede en ’n beampte van District Watch het die heining agterna herstel.
Marais sê die vrou was besig om uit haar oprit uit te trek toe sy aangeval word. Hy het aan TygerBurger gesê dat ’n saak by die polisie geopen is.
Lt.kol. Jeremy Pieterse, Bothasig-polisie se bevelvoerder, het dit bevestig.
“Die kantoor kan bevestig dat ’n saak van roof geopen is. Die klaer het haar eiendom teruggekry. Die saak word verder ondersoek,” sê Pieterse.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie.





