Inwoners wat in die omgewing van die Old Oak-brug oor die N1-snelweg woon, is al vanbou-poort tot stuur-poort bakboord na stuurboord om die woongebied met ’n heining teen misdadigers te laat beveilig.
Volgens Wikus Vermeulen, die Stellenridge-buurtwag se operasionele-bestuurder, is die misdadigers baie aktief tussen die sandhope op die skouer van die pad. “Sowat drie jaar gelede het Sanral ’n bouprojek hier voltooi en die sandhope net so gelos. Ses maande gelede is van die sandhope deur Sanral verwyder, maar daar is steeds hope waar misdadigers skuil,” sê hy.
“Wanneer ons die sandhope patrolleer, kom ons op die skuilings af waar haweloses woon en soms wegkruip. Ons kom ook gereeld op koperdrade en spuitnaalde af,” sê Vermeulen.
Hy meen dit is probleme wat die gemeenskap al jare lank probeer oplos.
Vermeulen praat ook van voetgangers wat van die loopbrug tussen Bill Bezuidenhout-rylaan en Old Oak-weg gebruik maak en gereeld beroof of vir diefstal geteiken word.
“Maar nóg die Stad Kaapstad nóg die Wes-Kaapse regering nóg Sanral wil ons bystaan om ’n heining te installeer om beter veiligheid te bied. “Al waarvoor ons vra, is dat dié klein gedeelte wat die snelweg na die woonbuurt kwesbaar hou, omhein word om misdadigers wat op die snelweg aktief is, uit te hou.”
Openbare werke
Jandré Bakker, woordvoerder van die departement van openbare werke, bevestig die N1-heining val onder hul mandaat. Die sandhope behoort ook aan die departement en word as stoorspasie gebruik terwyl dit by ander nabye bouprojekte benodig word. Dit word tans geskuif, maar die area kan weer in die toekoms daarvoor gebruik word.
Hy meen die omheining van padreserwes word volgens spesifieke norme en standaarde gedoen.
Hy meen dit is elke eiendomseienaar se verantwoordelikheid om sy eiendom te beveilig. “As ’n heining gebreek word, sal dit tydens die volgende bouprojek vervang word, onderhewig aan norme en standaarde. Dit beteken ’n heining sal vervang word ingevolge die norme en standaarde wat vir ’n eenvoudige draadheining geld,” verduidelik Bakker.
Fietspatrollie 24 uur
Vermeulen bieg dat hulle byna tou opgegooi het om die kwessie oor veiligheid met die owerhede op te neem.
“Ons het intussen ’n 24-uur-fietspatrollie, gefinansier deur Fidelity ADT, ingestel wat roetes patrolleer en kwaaddoeners ontmoedig om die buurt binne te kom. Hulle dien as die oë en ore en rapporteer wat hulle op die roetes gewaar.”
Maar dit is ’n duur storie om die woonbuurt só te beveilig, aangesien die fietspatrollie sowat R40 000 per maand kos, sê hy.
“Omtrent 90 uit 100 mense wat so langs die N1 loop, is kwaaddoeners. Ons benodig die hulp van alle owerhede om die gemeenskap se veiligheid te verseker.





