Polisieduikers naby die Riverside Gardens-brug, n hele ent stroomaf van die voetgangerbrug van waaeTheo Brinkhuys meegesleur is.


’n Soektog na die man wat eergisteroggend (Donderdag 18 Julie) in die sterk vloeiende Kuilsrivier-kanaal naby Kalkfontein beland het, is vanoggend voortgesit.

Volgens Eshleen Daniels, ’n niggie van die vermiste Theodore Brinkhuys (31), wou Theo die laagwaterbruggie vir voetgangers tussen Gersham en Kalkfontein oorsteek toe hy in die water beland het.

Sy reken dit moes kort voor 11:00 gebeur het omdat sy kort daarna ’n oproep van ’n vrou ontvang het wat naby die kanaal was toe Theo weggevoer is.

Die water het ten tyde van die voorval blykbaar tot bo-oor die bruggie gevloei. Theo het ná bewering sy kop gestamp nadat hy geval het en is toe deur die sterk stroom meegevoer.

AO Liesel Beukes, woordvoerder van die Kuilsrivier-polisie, het gesê volgens ’n ooggetuie wou die vermiste (Theo) waarskynlik net die kanaal oorsteek toe hy geval, sy kop gestamp het, en toe stroomaf meegevoer is.

Sy het bevestig die polisie se duikeenheid het Donderdag uitgekom, maar die duikers was nie in die water nie omdat die stroom te sterk was. Die ondersoek is aan die gang, maar ’n dossier is nog nie oopgemaak nie omdat daar nog na die liggaam gesoek word, het Beukes gesê.

Ebrahim Sawant, wykraadslid, het Vrydagoggend tydens die soektog naby die Riverside Gardens-brug vertel dat die watervlak Donderdag ook tot net-net bo-oor hierdie brug, wat ’n hele paar honderd meter stroomaf van die voetgangerbrug is, gestyg het. Volgens Sawant is ’n skoen en ’n baadjie van Theo Donderdag gevind.

Theo se ma, Charlotte Brinkhuys, het Vrydag kort nadat polisieduikers met ’n bootjie die gedeelte van die kanaal tussen die Riverside Gardens-brug en die Stellenbosch-hoofverkeersweg begin fynkam het, langs die kanaal kom staan en wag op nuus oor haar seun.

JP Smith, die Kaapstad-metro se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het intussen bevestig verskeie Stadsdepartemente help ook op die toneel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article