Daar word steeds gesoek na ‘n man van Kalkfontein wat
Donderdag 18 Julie in die sterk vloeiende Kuilsrivier-kanaal beland het.
Volgens Eshleen Daniels, ’n niggie van die vermiste Theodore
Brinkhuys (31), wou Theo die laagwaterbruggie vir voetgangers tussen Gersham en
Kalkfontein oorsteek toe hy in die water beland het.
Sy reken dit moes kort voor 11:00 gebeur het omdat sy kort
daarna ’n oproep van ’n vrou ontvang het wat naby die kanaal was toe Theo
weggevoer is.
Die water het ten tyde van die voorval blykbaar tot bo-oor
die bruggie gevloei. Theo het ná bewering sy kop gestamp nadat hy geval het en
is toe deur die sterk stroom meegevoer.
AO Liesel Beukes, woordvoerder van die Kuilsrivier-polisie,
het Vrydag gesê volgens ’n ooggetuie wou die vermiste (Theo) waarskynlik net
die kanaal oorsteek toe hy geval, sy kop gestamp het, en toe stroomaf meegevoer
is.
Beukes het bevestig die polisie se duikeenheid het
Donderdagmiddag uitgekom, maar die duikers was nie in die water nie omdat die
stroom te sterk was. “Die ondersoek is aan die gang, maar ’n dossier is nog nie
oopgemaak nie omdat daar nog na die liggaam gesoek word”, het Beukes gesê.
Ebrahim Sawant, wyksraadslid, het Vrydagoggend tydens die
soektog naby die Riverside Gardens-brug vertel dat die watervlak Donderdag ook
tot net-net bo-oor hierdie brug, wat ’n hele paar honderd meter stroomaf van
die voetgangerbrug is, gestyg het. Volgens Sawant is ’n skoen en ’n baadjie van
Theo Donderdag gevind.
Sawant het Donderdagmiddag ’n boodskap uitgestuur dat die
polisieduikers eers die soektog vir hul eie veiligheid Vrydagoggend sou
voortsit.
Theo se ma, Charlotte Brinkhuys, het Vrydag kort nadat
polisieduikers met ’n bootjie die gedeelte van die kanaal tussen die Riverside
Gardens-brug en die Stellenbosch-hoofverkeersweg begin fynkam het, langs die
kanaal kom staan en wag op nuus oor haar seun.
Daniels het Vrydagnamiddag gesê die polisie het die middag
‘n hommeltuig probeer inspan om met die soektog te help, maar die poging is gou
opgeskort omdat die wind te sterk was. Sy het later laat weet dat ‘n
soek-en-reddingspan van die brandweer ook kom help soek het.




