TygerBurger se redaksie, advertensie- en geklassifiseerde spanlede het verlede week as deel van Mandeladag besoek afgelê by MES Parow se Centre of Hope geleë in Alexandrastraat, Parow.
Die span het Woensdag 24 Julie sop en toebroodjies by die sentrum gaan aflewer en aan hawelose en werkloses voorgesit.
Enrique Hermanus, sentrumbestuurder, het die span ontvang en bedank. Hy is vergesel deur Clarina Hanekom, fondsinsamelaar en bemarker.
Hermanus het verduidelik dat MES se doelwit is om haweloses en werkloses uit armoede te kry. “Ons ontmoet die persoon waar hy of sy is, stap die weg saam met hulle en bied aan hulle ’n nuwe begin,” het hy gesê.
Die organisasie stel ook sy Mi-change-koepons aan sulke mense beskikbaar. Hermanus sê ’n individu kort net een van die koepons om sy of haar lewe te verander en om hulle uit armoede uit te kry.
Die sentrum bied ook programme aan hawelose en werklose mense. Dit sluit in hoe hulle met hul emosies omgaan en hul trauma verwerk. Daarna word ’n individuele ontwikkelingsplan saamgestel waarin die kliënt, met behulp van ’n maatskaplike werker, verskeie doelwitte kan stel en nastreef volgens sy eie lewensreis. Die program is uniek aan die persoon se behoeftes, verduidelik Hermanus.
Daarna word die kliënte ook gehelp om werk te kry en weer by die gemeenskap te ïntegreer. Al die programme word onder een dak aangebied, sê Hermanus





