Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het ’n beroep op inwoners van die Blue Downs-omgewing gedoen om hulle te help om ‘n man te identifiseer wat ‘n hond glo langs die pad gelos het. ‘n Klagte van dieremishandeling word ondersoek nadat die man glo die hond in die veld oorkant die Blue Downs-hof gelos en weggery het.
“Na ons mening is dit moontlik ‘n oortreding van die Dierebeskermingswet 71 van 1962. In hierdie stadium spreek ons ons nie uit oor of die person skuldig is al dan nie, want almal is onskuldig tot hulle in ‘n hof skuldig bevind word,” sê Belinda Abrahams van die DBV.
Sy doen ‘n beroep op enigeen met inligting wat kan help met die ondersoek, veral om die verdagte te identifiseer of sy adres te verskaf, om die DBV by 021 700 4158/9 of inspectorate@spca-ct.co.za te kontak.





