Die beheerliggaam van die Laerskool Mikro in Kuilsrivier het gistermiddag (6 Augustus) ’n skriftelike aansoek by die Wes-Kaapse Onderwysdepartement ingedien om die skool se taalbeleid van enkelmedium (Afrikaans) uit te brei na parallelmedium (Afrikaans en Engels) vanaf Januarie volgende jaar.
Die skool se bestuur en beheerliggaam het verlede kwartaal gesprekke begin oor die moontlike verandering in die lig van voorgestelde wysigings aan die onderwyswetgewing, die sogenaamde Bela-wet (“Basic Education Law Amendment Bill”) wat nog deur pres. Cyril Ramaphosa onderteken moet word.
Die skoolsaal was volgepak toe ouers op 11 Junie uitgenooi is na ’n gespreksgeleentheid oor die moontlike implikasies van die wetgewing. Dr. Lou Hofmeyr, voorsitter van die beheerliggaam, en Louis Mouton, skoolhoof, het dit egter duidelik gemaak dat die moontlike ondertekening van die Bela-wet nie die enigste oorweging vir infasering van Engels is nie, maar ook: dalende Afrikaanse leerdertalle; druk van die onderwysdepartement; finansiële uitdagings; ’n toename in Engelse leerders in die omgewing en ’n gemeenskap wat voortdurend verander.
Ouers stem
Die beheerliggaam het verlede week ’n versoek aan ouers uitgestuur om te stem op die vraag: “Ek stem saam dat Mikro ’n waardegedrewe parallelmediumskool kan word en dus een Engelse graad R-klas in 2025 moet infaseer. Ja of Nee.”
Volgens die beheerliggaam se omsendbrief wat gister (6 Augustus) uitgestuur is, het 54% van al die ouers gestem, waarvan 62% ”Ja” en 37% “Nee” gestem het.
Dit meld dat die uitslag nie uitsluitlik gebruik is om ‘n besluit te neem nie, maar dat dit vir die beheerliggaam ‘n goeie maatstaf was om in sy besluite te oorweeg.
Op die beheerliggaam se vergadering Maandag 5 Augustus is besluit om ’n aansoek by die onderwysdepartement in te dien vir die uitbreiding van die skool se taal van onderrig van Afrikaans na Afrikaans en Engels met ingang Januarie 2025.
“lndien die departement dit goedkeur, sal dit slegs een Engelse graad R-klas van maksimum 30 leerders in 2025 impliseer met een graad R-klas progressief daarna vanaf 2026.”
LEES OOK | Laerskool Mikro se taalbeleid onder soeklig
Die beheerliggaam meld dat die besluit onderhewig is aan “die onderwysdepartement se skriftelike bevestiging van die voorsiening van die volgende aan die skool oor ‘n tydperk van sewe jaar en soos nodig daarna: departementele onderwysposte vir die betrokke klasse/grade, alle leermateriaal, (en) alle nodige infrastruktuur”.
Die onderwysdepartement se aansoeke vir graad R-leerders vir 2025 is tans oop en sluit amptelik op 16 Augustus.
Die beheerliggaam meld dat indien sy aansoek goedgekeur word die skool in samewerking met die departement sal voortgaan met ’n inskrywingsproses vir die eerste Engelse graad R-klas.
Dit is nie duidelik hoe lank dit die onderwysdepartement sal neem om die aansoek te verwerk nie. Volgens die omsendbrief is die beheerliggaam en skoolbestuur proaktief besig om die nodige in plek te kry om die moontlike proses so glad as moontlik te laat verloop.
Agtergrond
Die skool was in 2005 landwyd in die nuus toe dit ’n hofuitspraak geverg het om die Afrikaans-enkelmediumstatus te kon behou.
Die uitnodiging aan ouers ná die gespreksgeleentheid wat op 11 Junie by die skool gehou is, het gemeld dat daar na aanleiding van die wetswysiging gevra kan word: Wat gaan hierdie wet vir openbare skole rakende die taalbeleid en die toelatingsbeleid van die skool beteken en hoe gaan die nuwe wet my kind se onderrig en opvoeding beïnvloed?
Hofmeyr het genoem dat die dorp en omgewing oor die laaste 20 jaar verander het. “Dit mag wees dat die skool se kultuur en die atmosfeer oor die jare verander – ons glo dit mag dalk ten goede wees. Weet asseblief dat dissipline en die behoud van standaarde vir ons ekstreem belangrik is.”
Hy het erken dat die regering se taalbeleid onsekerheid bring.
“Ons dink dit is belangrik om proaktief te wees in die hantering daarvan eerder as om in ’n situasie te beland waar daar ’n klomp leerders by ons skool met ’n bus afgelaai word.”
Van die bekommernisse wat hy uitgelig het, was leë stoele in klaskamers, drukgroepe wat hul hand mag forseer, en die skool se finansies wat daartoe kan lei dat beheerliggaamposte gesny moet word en ander addisionele aktiwiteite kan wegval.
Mouton het genoem dat die provinsiale onderwyshoof wat oor die taalbeleid en toelatingsbeleid van ’n skool moet besluit, sal kyk na: die huidige beleid van die skool; of dit in die beste belang van elke kind in die skool is; die taalprofiel van die skool; die taalprofiel van die gemeenskap waarin die skool geleë is; die skool se kapasiteit (hoeveel leerders dit kan akkommodeer) en die beskikbare hulpbronne van die skool.
“Daar is wetgewing wat sê die onderwyshoof moet elke drie jaar die taalbeleid hersien of soos omstandighede verander of wanneer dit deur die hoof van onderwys versoek word.”
Mouton het gesê die onderwysdepartement vra al geruime tyd vrae oor Mikro se Afrikaans-enkelmediumstatus: “Is die skool vol? Hoe het die gemeenskap waarin die skool is, verander? Dien die skool nog die veranderde gemeenskap?”
Hy het daarop gewys dat Mikro se leerdertalle sedert 2017 van 1 011 tot 849 vanjaar gedaal het ten spyte van voortdurende pogings om die skool te bemark.
Mouton het gesê dat hulle na die onderwysdepartement se streekkantoor uitgereik het oor die moontlikheid om geleidelik Engelse klasse te begin infaseer. “By monde van die kringbestuurder van Metro-Oos was hulle oorwegend positief. Die wat al lank hier in die dorp is, sal weet dat daar ’n groot tekort (aan plek in skole) vir Engelse kinders in die omgewing is.”
Mouton het by Hofmeyr aangesluit oor die invloed wat finansies kan hê. Tans word 28% van die skool se begroting weens slegte skuld of skoolfondskwytskelding afgeskryf.
Hy het ouers verseker dat standaarde en waardes ononderhandelbaar is. “Ek hoor baie ouers sê ‘my kind sal in Mikro wees, want hier is waardes; dit word toegepas; hier is nog respek’.”
Hy het gesê sterk leierskap en doeltreffende stelsels sal verseker dat hoë standaarde en waardes behou kan word.
Mouton het uitgelig dat daar verskeie funksionele dubbelmediumskole in die omgewing is soos die laerskole Bastion, Brackenfell en Gene Louw.
Die beheerliggaam het na sy eerste vergadering van die nuwe kwartaal (24 Julie) in sy omsendbrief aan ouers gemeld dat relevante organisasies genader is om statistieke oor die voor- en nadele van die moontlike verandering te bekom. Die versekering is gegee dat hulle met die Wes-Kaapse-onderwysdepartement sal saamwerk soos nodig en die nodige beleide in plek sal kry, sodat enige besluit aan wetlike vereistes sal voldoen. Die Federasie van Skoolbeheerliggame van SA is ook gekonsulteer vir leiding in die hantering van die proses.





