Speurders verbonde aan die Parow-speurdiens is op soek na moontlike ooggetuies wat kan help met ’n ondersoek.
Die speurders ondersoek ’n saak van strafbare manslag ná ’n botsing op Sondag 27 Julie omstreeks 22:30 op die hoek van McIntyre-weg en Tweede-laan in Parow. ’n Swart-en-grys motorfiets met die registrasienommer CY 426 657 was by die voorval betrokke. Daar word beweer dat die motorfietsbestuurder deur ’n onbekende motor getref is. Dit kan egter nie bevestig word nie. Die motorfietsbestuurder is na die Tygerberg-hospitaal gehaas, maar het kort daarna gesterf.
Die speurdiens versoek enige ooggetuies om hulle te kontak met inligting oor die ongeluk.
- Die saak word deur AO Eugene Human ondersoek. Skakel 021 992 9710 of stuur ’n e-pos na parowcid@saps.gov.za.





