Kongresgangers luister na die sprekers. FOTO: Nielen de Klerk


Veerkragtige vroue van reg oor die Kaapprovinsies heen het onlangs na die Vredelust-gemeente in Bellville gestroom, waar die Vroue-Landbouvereniging van Kaapland (VLVK) se 94ste kongres gehou is.

Sowat 260 kongresgangers van die Wes-Kaap, Noord-Kaap en Oos-Kaap, wat altesaam sowat 3 000 lede verteenwoordig, het die kongres op 15 en 16 Augustus bygewoon.

Vanjaar se byeenkoms is deur die VLV Sirkel Tygerberg aangebied.

Die VLVK Sirkel Tygerberg het ook vanjaar ’n winkel by die kongres bekendgestel, waar lede hul eie handgemaakte artikels aan ander kon verkoop. Hierdie konsep volg op ’n baie gewilde Whatsapp-groep wat deur lede bedryf word.FOTO’s: Nielen de Klerk

Kongresgangers is getrakteer op verskeie interessante praatjies deur onder andere die dekorkenner Misi Overturf en motiveringspreker en oud-skoolhoof Rian Truter.

Een van die hoogtepunte van vanjaar se kongres was die kuns- en handvlyt-kompetisie. Deelnemers het dit in ’n wye verskeidenheid kategorieë – van borduurwerk, fotografie en skryfkuns tot weefwerk – uitgespook.

Ita van der Merwe, die Tygerberg-sameroeper vir kuns en handvlyt, het gesê die gehalte van inskrywings wat hulle ontvang het, was baie hoog.

Die beeldende kuns-kategorie was vanjaar besonder gewild, met tientalle deelnemers wat houthuisies versier het om ’n kans te staan om hierdie afdeling te wen. Annerie McDonald van Helderberg het met die prys weggeloop.

Die mees uitstaande artikel is egter deur Annette Greef van Oudtshoorn gewen vir haar doilie.

Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR vir landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, en Geordin Hill-Lewis, Kaapstad se burgemeester, het ook die verrigtinge bygewoon.

Kongresgangers kyk na party van die artikels wat vir die kompetisie ingeskryf is. FOTO: Nielen de Klerk

Meyer het na afloop van sy besoek die vroue geprys vir hul passie, toewyding, orde en dissipline.

“Hulle doen wonderlike gemeenskapswerk reg oor die drie provinsies,” het hy bygevoeg. “Hul harte is werklik by die minderbevoorregtes.”

Hy het die groep geprys omdat hulle aktief werk om die land op verskillende terreine te verbeter.

“Ek is baie trots op wat hulle doen, want hulle wil die samelewing herstel. Suid-Afrika met die Regering van Nasionale Eenheid het vroue van hierdie kaliber nodig om die land weer te herstel,” het hy gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article