’n DA-wykraadslid in Morgenster in Brackenfell is in die sop by belastingbetalers wat dreig om ’n veldtog te begin om haar in die volgende verkiesing uit die wyk uit te stem.
Dié inwoners beskuldig Brenda Hansen daarvan dat sy “skitter in haar afwesigheid” as teenwoordiger van die plaaslike regering in dié woonbuurt.
Die diensleweringsdilemma het ontstaan oor die kwessie van ’n 200 m-lange hoof-watertoevoerpyp in Vivaldistraat, wat die afgelope jaar gereeld bars, waarvan die laaste drie keer sedert Mei, volgens inwoners.
Op 27 Julie het die pyp weer op twee plekke gebars en telkemale is inwoners vir dae sonder water.
Volgens Hans Carstens is werk aan die pyp teen 5 Augustus steeds nie voltooi nie weens ’n foutiewe klep.
LEES | Lees die nuutste digitale weergawe van die TygerBurger hier
Die probleem, sê hy, het nou so erg geword dat die lekkasie van die klep van die massiewe pyp nou veroorsaak het dat die grond onder die pad uitgekalwe het en ’n gat in die pad gevorm het, wat Marais sê nou ’n uiterste gevaar vir motoriste inhou.
‘Abnormaal’
Carstens is van mening dat die gereelde barste abnormaal is en sal aanhou gebeur.
sê hy.
“As ’n persoon wat tegnies aangelê is, glo ek die probleem het gekom om te bly. Die pyplyn se gehalte verskil beslis van die res van die omgewing.
“Nêrens anders in die omgewing ervaar mense dieselfde probleme nie,” meld Carstens op 5 Augustus in ’n skrywe aan Tertuis Simmers, die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur.
Dit was ná weke se onsuksesvolle pogings om die wykraadslid op haar selfoon te bereik.
Carstens het ’n versoek aan Simmers gerig dat die kwessie ondersoek word.
Volgens Carstens moet die kwessie dringend met ’n wykraadslid bespreek word.
“Wanneer ek hulp nodig het, het ek van ander raadslede gebruik gemaak,” sê hy.
“Ek weet nie wat die funksies van die raadslede is nie, maar ek glo dis ten minste goeie etiket om ’n selfoon gedurende kantoorure te antwoord.
“As kieser het ek reeds gedurende 1970 vir die opposisie gestem. Indien die persoon weer as raadslid in ons wyk staan, is ek genoodsaak om familie en vriende in die omgewing te versoek om nie vir die DA te stem nie,” skryf hy.
Simmers het Carstens op 6 Augustus verwittig dat hy die kwessie “sal opneem met die relevante raadslid en kiesafdelingshoof”.
Maar sedertdien is die klagte van amptenaar na amptenaar gestuur en wag inwoners nog steeds vir die pyp en die gat om reggemaak te word.
Meld foute aan
In antwoord op vrae wat TygerBurger aan die Stad Kaapstad gerig het, sê Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, dat inwoners foute met ’n C3 (diensversoek) by die Stad moet aanmeld.
Badroodien sê die pyp in die straat het oor die afgelope vyf jaar al agt keer gebars.
Rob Quintas, burgemeesterskomiteelid vir stedelike vervoer, het aan TygerBurger gesê die sinkgat in die pad is Donderdag herstel en dat die oorsaak daarvan nou ondersoek sal word.
Hansen het aan TygerBurger gesê inwoners wat haar probeer bel, moet net ’n bietjie langer wag omdat sy gereeld in vergaderings is.
“As die foon aanhou lui sal dit divert word na my assistent in die kantoor wat my oproepe neem.
“Ek is jammer dat ek nou nie betyds geantwoord het nie.”
Sy voeg by sy is bewus van die gebarste pype in Vivaldistraat, wat deur die voorsitter van Morgensterhoogte se buurtwag per e-pos onder haar aandag gebring is.





