Drie vermeende afpersers is Woensdag in Bothasig deur lede van die Suid-Afrikaanse polisie doodgeskiet.

SAPD

Drie vermeende
afpersers is Woensdag helder oordag in Bothasig tydens´n oor-en-weer skietery
met die polisie dood. Nog vier ander ontvang tans mediese behandeling vir hul
beserings en is deur die polisie aangekeer.

Die verdagtes
was met lede van die Suid-Afrikaanse polisie se gevegseenheid, verbonde aan die
provinsiale operasionele-bevelssentrum, in die skietery betrokke. Die voorval
het omstreeks 14:00 op die hoeke van Bosmansdam- en Wynlandweg in Bothasig
gebeur.

Lt.kol. André
Traut, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die vier beseerdes word onder
polisietoesig behandel en dat speurders leidrade opvolg om klagtes teen die
persone voor te berei vir hul hofverskyning. Hy sê die identiteit van die
verdagtes moet nog bepaal word.

Volgens Traut
het die polisie op inligting gereageer dat sewe persone in ´n minibus-taxi
kontant by winkeleienaars in Dunoon eis en hulle afpers. Tydens hul ondersoek
het hulle die verdagtes uit die gebied sien vlug. Terwyl die minibus-taxi
agterna gesit is, het die verdages glo in Bosmansdamweg op twee van die polisie
se voertuie met ´n aanvalsgeweer begin skiet.

Die polisie het
teruggeskiet en kon daarin slaag om die voertuig tot stillstand te dwing op die
hoek van Bosmansdam- en Wynlandweg. Daar is op die aanvalsgeweer, ´n
9mm-pistool en ´n onbekende bedrag geld, sowel as die minibus-taxi, beslag
gelê, sê Traut.

Die Onafhanklike
Polisieondersoekdirektoraat (OPOD) ondersoek die dood van die drie verdagtes en
die beserings van die ander vier verdagtes. ´n Geregtlike doodsondersoek is
geopen.

“Gelukkig is geeneen van die
polisielede of enige lid van die publiek tydens die skietvoorval beseer nie,”
sê Traut.

Die polisie sê afpersing is
een van die Wes-Kaapse polisie se top prioriteitsmisdade en slagoffers word
aangemoedig om na vore te kom. Skakel die tolvrye-nommer by 0800 3 1 44 44.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article