Foto ter illustrasie: iStock


Nog ’n voorval waarin lede van die Suid-Afrikaanse polisie met vermeende misdadigers in ’n oor-en-weer-skietery was, het die afgelope naweek naby die N7-snelweg uitgebreek.

Die voorval het Saterdagmiddag naby die afrit na Malibongwe-weg, Dunoon, plaasgevind.

Sers. Wesley Twigg, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê ’n motoris het dié dag in Potsdamweg, Dunoon, die polisie voorgekeer en hulle meegedeel dat hy pas deur onbekende verdagtes beroof is. ’n Vuurwapen is glo op die persoon gerig tydens die voorval.

“Sy selfoon is gesteel en hulle het ook probeer om sy voertuig te steel, maar kon dit nie aan die gang kry nie. Die verdagtes is deur die polisie opgemerk en het inhegtenisneming probeer vryspring,” sê Twigg. 

’n Oor-en-weer-skietery tussen die polisie en die verdagtes het uitgebreek en twee van die verdagtes is gewond. Drie ander verdagtes is aangekeer en twee het te voet van die toneel gevlug, sê Twigg.

Die linkerbaan van die N7 waar die voorval gebeur het, was vir verkeer gesluit.

Die polisie in Table View ondersoek ’n saak van gewapende roof. Twigg sê die verdagtes sal in die Kaapstadse landdroshof verskyn sodra hulle aangekla is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article