Die sypaadjie voor die Durbanville-polisiekantoor word met plante en klippe verfraai.


Ná ’n jare lange stryd om ontslae te raak van straatmense wat op die sypaadjie voor die Durbanville-polisiekantoor in Louwstraat slaap, word dié netelige kwessie nou met ’n stekelrige en knopperige oplossing die hoof gebied.

Danksy ’n skenking deur AfriForum van R10 000 se bome – 20 aalwyne en 20 spekbome, asook ’n donasie van sowat 34 ton groot wit klippe deur inwoners van Paveco Villas in die straat en ander anonieme skenkers, word die sypaadjie tans in ’n pragtuin omgetower.

Werkers van MES Durbanville se Grow-spanne word teen ’n geraamde koste van sowat R8 000 ingespan om die onkruid te verwyder, beddings vir die bome te spit en die klippe te pak. Die projek het op 19 September begin en is Maandag weens die reënweer gestaak, maar sou hervat word sodra die reën opklaar, sê Leendert Stoop, voorsitter van AfriForum Durbanville-tak.

Dit kom nadat inwoners van veral die Paveco Villas-kompleks al vir byna 13 jaar ’n stryd voer teen die straatmense.

Altesame 20 spekbome en 20 aalwyne is aangeplant.FOTO: PC van Zyl

Volgens Heidi Stumpf, een van die inwoners en voorsitter van Paveco Villas se beheerliggaam, raas en baklei die straatmense snags en bemors hulle die sypaadjie – ook voor hul kompleks.

Hoewel die straatmense nou glo net na die oorkant van die pad getrek het en dáár blombeddings plattrap, sal die hele straat mettertyd verfraai word, sê Stoop.

“Die idee is nie net om die straatmense te dwing om die gebied te verlaat en by maatskaplike programme aan te sluit nie, maar ook om die gemeenskap te mobiliseer om hul omgewing self mooi te maak. Mense moet nie al hul verwagtinge in die plaaslike regering plaas nie, maar hande vat om self hul omgewing te verfraai,” sê Stoop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article