Die Bishop Lavis-polisie het padgebruikers gewaarsku om nie langs Robert Sobukwe-weg stil te hou indien dit nie regtig nodig is nie.
Die waarskuwing volg ná ’n skietvoorval waarin drie mans verlede week gewond is toe hul bakkie onklaar geraak het.
Volgens sers. Samantha Adonis, polisiewoordvoerder, het die mans by die bakkie gestaan toe onbekende verdagtes hulle uit Agste Laan genader het.
“Die verdagtes het toe die bakkie se battery verwyder, waarna hulle op die slagoffers losgebrand het,” sê Adonis.
Die slagoffers van Hanover Park en Belhar – almal tussen 25 en 35 jaar – is na ’n nabygeleë hospitaal vervoer. Een is in die been, ’n ander in die rug en die derde slagoffer is in die gesig geskiet. Al drie is in ’n stabiele toestand, sê Adonis.
Volgens haar is drie klagte van poging tot moord aanhangig gemaak. “Dit blyk in hierdie stadium of die motief roof kan wees, maar die saak word in hierdie stadium nog ondersoek. Ons verstaan dat ’n mens nie kan voorspel wanneer ’n motor onklaar kan raak nie, maar as jy dit kan verhoed, moet nie langs die pad stilhou nie. Daar is boewe wat net wag om op niksvermoedende slagoffers toe slaan. As jy uit nood langs die pad moet stop, bel dadelik vir hulp,” stel sy voor.





