Jip de Jager byna klaar, padhervlakking in Belrailweg, Bellville onderweg

Die padkaart van Bellville toon waar padwerke aan Belrailweg tans plaasvind.


Die Stad Kaapstad se Direktoraat vir stedelike mobiliteit wil graag die publiek inlig oor die padhervlakking (road resurfacing) van Belrailweg tussen Robert Sobukweweg en Charl Malanstraat in Bellville. Die hervlakking is aan die gang tussen 18:00 en 06:00 vanaf Sondae tot Vrydae en is geskeduleer om op Vrydag 18 Oktober te eindig, indien die weer dit toelaat en daar geen onvoorsiene vertragings is nie.Die werk sluit in: 

• Die oprigting van mangate.

• Die verwydering van bestaande oppervlaktes en padhervlakking van die pad.

• Die verwydering en heruitlegging van sekere betonrande en kanale.Die huidige padmerke sal weer aangebring word.Die Stad se burgemeesterskomiteelid vir stedelike mobiliteit, Rob Quintas, bedank padverbruikers en sakeondernemings vir hul geduld gedurende die padwerke:“Ek wil die inwoners, padverbruikers en ondernemings langs hierdie gedeelte van die pad bedank vir hul geduld terwyl ons hierdie belangrike instandhoudingswerk doen. Die gebiede waar aandwerk plaasvind, sal gedurende die konstruksietye gesluit wees. Ons sal egter verseker dat die pad gedurende die dag oop is vir verkeer. Die padwerke is daarop gemik om die lewensduur van die Stad se padnetwerk te verleng sodat ons Kaapstad aan die gang kan hou,” sê Quintas.

Jip de Jager-rylaan

Dit volg na burgemeester, Geordin Hill-Lewis, en Quintas Jip de Jager-rylaan in Welgemoed, Bellville, op Donderdag 3 Oktober besoek het. Die pad word tans opgegradeer na ’n dubbelpad met twee bane in elke rigting.

Hierdie besoek was deel van vanjaar se Vervoermaand-aktiwiteite om die vordering wat die munisipaliteit met hierdie groot padinfrastruktuurprojek maak, te beklemtoon.

“Ons is in die finale fase van die groot opgraderingsprojek van Jip de Jager-rylaan in Welgemoed, Bellville, en het vandag die terrein besoek om die ongelooflike vordering te sien wat die span oor die afgelope paar maande gemaak het,” het Hill-Lewis gesê.“

LEES | Jip de Jager word verbreed na twee lane

Daar word verwag dat hierdie werk in Februarie volgende jaar voltooi sal wees, wanneer alle padverbruikers die verskil sal kan ervaar wat hierdie groot opgradering in die verligting van verkeersopeenhopings in die gebied sal bring.”

Volgens Quintas, is die padhervlakkingswerk op Jip de Jager-rylaan steeds aan die gang en bly op skedule. Die span vorder ook goed met die werk by die kruisings. 

“Ons verwag dat verkeer binne die volgende twee weke herlei sal word na nuwe gedeeltes van die pad onder regstreekse verkeersomstandighede, sodat inwoners binnekort kan uitsien na die gebruik van gedeeltes van die nuwe pad. Ek wil weer eens die inwoners bedank vir hul onwrikbare geduld terwyl die werk aan die gang is, en vir hul ondersteuning van ons pogings om Kaapstad aan die gang te hou,” het Quintas begevoeg.

Die span het nog ‘n paar oorblywende take van Jamesonweg af tot by Van Riebeeckshofweg, en die finale afrondings aan die keermure is ook onderweg.Wat straatbeligting betref, het die projekspan bevestig dat dit ook op skedule is vir die beplande installasiedatum. Die nodige padmerke bly ook op skedule.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article