Van dwelmverslaafde tot eienaar van haar eie onderneming.
Dit is die verhaal van Nadia de Klerk, ’n inwoner van Belhar wat by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) se Sentrum vir Entrepreneurskap en Innovering ’n program bygewoon het wat haar help om as sakevrou uit te styg.
De Klerk sê haar lewe het op die agtervoet begin toe sy in ’n plakkerskamp gebore is en onder ’n alkoholis-pa deurgeloop het. “In ons huis is ons nie baie aan liefde blootgestel nie. My ma was ’n Christen, maar my pa het ’n drankprobleem gehad. Weens die drank het hy ons baie sleg behandel en ons was bang vir hom. Ons het gereeld pakgekry en hy het sommer vloeke oor ons uitgespreek,” sê De Klerk.
Weens haar pa se drinkery is hulle in armoede gedompel. “Daar was net nooit geld nie. Ek kan nie onthou dat ek ooit ’n nuwe skool-uniform gekry het nie. Ek het by mense gevra om ons te help en ons het maar ander mense se skoolklere wat te klein was gekry. As daar die slag geld ingekom het, moes dit eers smokkelhuis langs gaan.
‘Nice times’
“Ek moes die skool op ’n jong ouderdom verlaat en my eie weg deur die lewe vind. My pa het ons uitgesit en dis hoe ek op 16 by my tannie in Belhar gaan woon het. Ek sal haar dit altyd dankbaar wees dat sy haar deur vir my oopgemaak het,” sê De Klerk.
Sy het toe ’n werk gekry en daar het haar lewe van partytjies en “nice times” begin. “Van daar het ek iemand ontmoet en ons het getrou. Uit die huwelik is ’n pragtige dogter gebore, maar die huwelik het verbrokkel en ons is geskei. Ek was verpletter en bedroef en het gevoel die wêreld het my verlaat. Ek het my hulp in drank en dwelms gesoek en kort voor lank was ek ’n verslaafde. Daarna het ek in bende-aktiwiteite verval en ook dwelms gesmous. Uiteindelik was ek vir agt jaar deel van die onderwêreld, maar ek het altyd met die seer binne-in my geloop. Die dwelms het ek gebruik om daardie seer te verdoof,” sê sy.
Haar keerpunt het in 2015 gekom toe sy drie evangeliste ontmoet het op die hoek van die straat waar sy gewoon het. “Ek het Andy Dominie, Natasha Jantjies en Jovane de Klerk ontmoet. Vandag is ek met Jovane getroud. My lewe was nooit weer dieselfde ná daardie ontmoeting nie. Hulle het my vertel van Victory Outreach en die programme waar hulle verslaafdes gratis help. Tydens die program het ek God ontmoet. Dominie, wat my altyd ondersteun het, het my aangemoedig om vir die kursus by UWK in te skryf.
“Ek het aansoek gedoen en tot my verbasing het ek e-pos ontvang dat ek aanvaar is. UWK het my onderneming gefinansier, dit geregistreer en ek het ’n leierskapprogram van ses maande voltooi. Ek raak emosioneel as ek dink alles is moontlik gemaak deur die goedheid van God.”





