Polisielede bly in aanhoundig tot tweede borgtogaansoek volgende week

Ter illustrasie. FOTO: Heleen Boshoff

Die vier polisielede, onder wie een wat by Bellville-polisiestasie gestasioneer is, sal weer Dinsdag (15 Oktober) vir ’n tweede borgtogaansoek in die Wynberg-landdroshof verskyn, volgens die Wes-Kaapse woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), Eric Ntabazalila.

Die lede, Mthuthuzeli Mafanya (33), Jacobus Adriaan Groenewald (44), Bradley Dimitri Minnaar (28) en Bathandwa Soldati (38), staan tereg op aanklag van huisroof met verswarende omstandighede. 

Hulle is die afgelope maand deur die Wes-Kaapse teenkorrupsie-eenheid in hegtenis geneem. Ntabazalila sê die verdediging het hul eerste getuie, Groenewald, geroep om in sy borgtogaansoek te getuig.

“Hy sal volgende week vir die eerste kruisverhoor geroep word.”

Die vier het na bewering Saterdag 14 September om 01:35 op ’n luukse Sunsetlaan-huis in Llandudno, wat volgens Netwerk24 aan ’n ryk Nigeriese filmvervaardiger behoort, toegeslaan.

Hulle het die buitelander en nog drie ander mense wat in die huis was na bewering met kabelbinders vasgebind, na die boonste verdieping van die huis gegaan en verskeie luukshede begin opraap.

Daar word beweer dat verskeie Rolex-horlosies wat met edelstene belsaan is, duur armbande, halssnoere, skootrekenaars, selfone, iPads en ander elektroniese toerusting tydens die voorval gesteel is. 

LEES MEER | Bellville-polisieman een van vier polisielede wat in Wynberg-landdroshof verskyn ná huisroof

Mafanya, verbonde aan die Bellville-polisie, is op Donderdag 19 September omstreeks 18:35 in hegtenis geneem. Die beamptes het op Donderdag 3 Oktober hul verskyning in die hof gemaak nadat die klagte oorspronklik by die Houtbaai-polisie aangemeld was. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article