Deesdae voel dit asof bedelaars hul slimstories van die straathoeke na sosiale media verskuif het.
Feitlik elke gemeenskapsgroep wat ek volg, is vrot van hul lang gesange – dieselfde tipe lang stories wat die ouens wat gewoonlik op ’n Sondag jou deurklokkie kom lui, vir jou spin. Die een soek geld vir krag, die ander een soek huurgeld anders is sy môre op straat, en dan natuurlik is daar die wat op jou gevoel speel met hul kinders. Hulle soek klere, kos en skoolgeld.
Sommige is so mooi bewoord dat jy die persoon onmiddellik jammer kry, want hoe vernederend moet dit wees om al jou swaarkry op sosiale media te verklap. Maar dan wonder ek, hoe onderskei ’n mens tussen die persoon wat regtig swaarkry en ’n pot snot. Dis maklik om net krag te koop vir die meter waarvan die nommer verskaf is, maar hoeveel ander mense het nie dieselfde gedoen nie?
Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek help graag my medemens waar ek kan, maar ek hou maar eerder by die verantwoordelike manier. Ondersteun eerder organisasies wat mense werklik help. Help hulle om terug op hul voete te kom as verder die afgrond in.




