Skielik is ons al diep in Oktober.

Nog ’n jaar se einde rol nader.

Of is dit ons wat rol?

Soms effe holderstebolder van een week na die volgende – van een werkdag, roetine, vergadering, afspraak, taak, spertyd tot ’n volgende, en ’n volgende, en en en.

En om en om.

Die dae mag opwindend, vol vreugdes, uitdagend, vervelig, goed, minder goed, rof of wat ook al wees, maar feit bly staan: tyd tik voort ongeag.

Jy onthou iets en dink dit was mos net nou die dag.

Dan kom jy agter iets wat voel of dit net gister gebeur het, was vyf, agt, 10 of meer jaar gelede. (Facebook herinner ons mos so graag.)

Waar is September heen – het dit dalk net drie dae pleks van 30 gehad?

Tog was die winter lank. Ten minste het dit midde-in so gevoel, want dit was nat en koud, te min sonskyn (te veel verskonings, te min oefening – hoekom sit hierdie broek nou ‘‘skielik” so styf!)

Hoe ouer ons word, hoe vinniger vlieg die tyd skynbaar verby.

Dis natuurlik net ’n persepsie, want ’n minuut het nog steeds 60 sekondes.

Die beste verduideliking wat ek kon kry oor hoekom die jare skynbaar “spoed optel”: Hoe meer jare jy al hier op die ondermaanse geleef het, des te kleiner is die gedeelte wat een jaar in jou lewe verteenwoordig (in verhouding tot jou ouderdom).

Teen 50 is een jaar net 2% van jou lewe. Daarom voel die jare al hoe korter.

Die neuroloë kan nog meer komplekse moontlike redes gee wat te make het met die brein wat minder nuwe ervarings het soos ons ouer raak.

Maak ’n nota: Nuwe ervarings bly belangrik om jou kop jonger te hou.

Tyd is klokslag konstant, maar ons ervaring daarvan is relatief.

Dit is seker maar net menslik om soms te wens ons kan die tyd bietjie aanjaag.

Die onaangename kan mos maar vinniger wyk net soos wat beter vooruitsigte vinniger kan opdaag.

Die lewe is mos maar ’n siklus.

Wanneer die gebruik begin het, kan ek nie onthou nie, maar so rondom die tweede week van Oktober begin die jaarlikse aftel in die redaksiekantoor.

Nog tien weke om te gaan tot die laaste uitgawe.

Teen die tyd wat jy hierdie lees sou een van die joernaliste al die nege van die muur afgetrek het.

Nog agt weke om te gaan. Nog agt spertye om te haal.

Dan kan ons vir ’n rukkie uit die weeklikse siklus ontsnap.

Dit is as aansporing bedoel – die eindstreep is so te sê in sig. Vasbyt, min dae, moed hou en deurdruk!

Maar, laat blyk ’n kollega toe in ons weeklikse vergadering, sy wil eerder nie die weeklikse aftel gade slaan nie want daar is nog soveel dinge wat in daardie weke moet gebeur dat dit eerder tot angstigheid bydra.

Soveel dinge, so min tyd.

Ja, dink ek, wil ons regtig ons dae aftel? Moet ons nie eerder ons dae laat tel nie.

Ons kan nie die klok stop nie, die veranderlike is ons self. Ons kan kies waarop ons fokus.

My doenlysie wag (en ek beter aan meer nuwe ervarings begin dink). Mooi reis mede-tydreisigers! – Carina Roux

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article