Robin (32) en Jolandie Lewis (31), ’n egpaar oorspronklik van Nelspruit, het verlede week uit Bellville vertrek op hul 10 jaar lange ekspedisie om lewens te red oor 64 lande heen – van Suid-Afrika tot in Viëtnam.
Met hul getroue huis op wiele, gedoop Betsy, gryp die twee die avontuur van ’n leeftyd aan op soek na gewillige stamselskenkers oor Afrika, Europa en Asië heen.
Seldsame siekte inspireer
“Dit het alles in 2018 begin toe leukemie by my as ’n pasgetroude man gediagnoseer is. Ná ’n elle lange proses, ’n bloedbiopsie, toetse en ons troue, het die Groote Schuur-hospitaal se spanne my oorreed om nog een toets te laat doen. Dit het uiteindelik bepaal dat ek aan Fanconi-anemie (FA) ly,” vertel Robin.
FA is ’n seldsame, oorerflike genetiese afwyking wat die beenmurg beïnvloed en lei tot verminderde produksie van alle soorte bloedselle. Dit is ’n soort aplastiese anemie, waar die beenmurg nie genoeg bloedselle produseer nie, en dit kan tot ’n verskeidenheid gesondheidsprobleme lei, insluitend ’n verhoogde risiko van kanker.
Daar is slegs sowat vier Suid-Afrikaners by wie die siekte amptelik gediagnoseer is.
“Dit is toe dat ons besef het hoe kompleks beenmurgoorplantings is, veral omrede skenkers so skaars is. Om ’n gepaste beenmurgskenker op te spoor, word deur baie faktore bepaal, soos ouderdom, ras, afkoms en algehele gesondheid.”
Nou in remissie van leukemie, mors Robin geen tyd om met hul bagasie vol toetsstelle die wêreld vol te soek na stamselskenkers nie.
Vanweë hul projek Matches on the Map is Robin en Jolandie toegewyd om globale bewusmaking te skep en sodoende soveel skenkers moontlik in die internasionale beenmurgregister aan te teken.
etniese diversiteit
Die projek is ’n eerste van sy soort en mik om lewensreddende stamselskenkers op te spoor deur etniese diversiteit by die internasionale databank te voeg.
“Die proses om as skenker te registreer is eenvoudig. Ons, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Beenmurgregister (SABMR), verskaf die toetsstel wat teen geen koste nie jou stelselmatig in die register aanteken. Vandaar word skenkers na die naaste donasiepunt verwys om deur ’n bloedoortapping die skenker se stamselle te oes.”
Dié soort bloedoortapping is baie soortgelyk as om bloed te skenk,” belowe Robin.
Hy verseker ook dat skenkers geen kostes hoef aan te gaan nie, en dat die SABMR alle reis- en verblyfkoste dek.
“As ’n egpaar het ons self hierdie prosedure ondergaan, ’n tweede kans op lewe gekry en ons toegewy aan hierdie missie,” deel sy getroue regterhand, Jolandie.
Ou brandweerwa
Die tweetjies se tog geskied in ’n ou brandweerwa wat hulle self herbou en omskep het in ’n huis op wiele, wat op gebruikte kookolie loop.
“Die dieseltrokkie sou net te duur wees om mee te reis. Dus het ons dit omskep om op gebruikte kookolie, asook herwinde nywerheidsolie, te loop.
“Ons het ook sonpanele en ’n watertenk geïnstalleer en die wa laat ons toe om heeltemal off-grid te reis,” verduidelik hy.
Betsy is ook heeltemal met ’n kombuis, wasmasjien, badkamer, stort en hope rakspasie toegerus.
“Tot op hede is ons al sowat 300 dae op die pad. Ons het al drie lande en 7 000 km oorwin, 651 potensiële lewensredders geregistreer, 49 werwingsveldtogte en 25 opvoedkundige groepgesprekke gehou.”
Genade kerf die pad vorentoe
Jolandie glo dat hulle nie aan hul eie lot oorgelaat is nie.
“So baie barmhartige ondersteuners het al ons pad gekruis – of dit nou finansieel of met hulpbronne is – om Betsy te verbeter. Hierdie is nie ons eie werk nie, maar alle eer aan die Here wat tot dusver alles vir ons voorsien.”
Hulle is grootliks selfgefinansier deur by feeste en markte op te slaan.
“Jolandie het haar naaldwerk en masjiene ingepak en so stal ons haar handewerk by die verskillende feeste uit. So bly ons aan die lewe, tesame met borge op ons Patreon en van die mense wat ons teëkom,” sê Robin.
“Ek hoop ook om die eerste mens te wees by wie Fanconi-anemie gediagnoseer is, om so ’n reis aan te pak en te voltooi.”
- Volg Robin en Jolandie se reis Matches on the Map op Instagram by @numinous_expeditions; op Facebook by @NuminousE of ondersteun hul reis op Patreon.
- Stuur e-pos na L.robinlewis@gmail.com vir meer inligting om ’n skenker te word.





