“Elkeen in die dorp het ’n verantwoordelikheid om ’n kultuur van eenheid in Durbanville te skep. Bou op en moenie afbreek, skinder of klippe gooi nie,” het Pieter Koen, voorsitter van die Durbanville-Sakekamer verlede Woensdagaand gesê.
Dit was by die sakekamer se jaareindgeselligheid, wat by die Durbanville-gholfklub plaasgevind het en deur plaaslike sakelui, raadslede en ander belanghebbendes bygewoon is.
Die boer en ontwikkelaar André Brink, eienaar van Groot Phesantekraal in Durbanville, is as die sakekamer se Sakeleier van die Jaar aangewys. Brink is ook onlangs as die Wes-Kaap se Boer van die Jaar aangewys.
Groet mekaar
“Groet mekaar in die strate. Dit skep ’n kultuur van samewerking.
Ondersteun ook plaaslike organisasies. Ons moet saamwerk en mekaar plaaslik ondersteun, want daardie geld sal weer na jou toe terugkom,” het Koen gesê.
“In hierdie netwerk van plaaslike besighede, skole, landbou, sportklubs en gemeenskapsorganisasies is daar ’n duidelike visie en almal in Durbanville strewe na daardie visie.
“Durbanville het ’n eie unieke identiteit – of dit nou kultuur, kos of vakmanskap, handel of toerisme is. Dis een van gesonde gesinswaardes. Die onderwys dien as die grondslag van ons toekoms. Ons skole en gemeenskapsentrums speel ’n groot rol in die vorming van selfrespek en ambisie by ons jong mense.
“Daar is gereeld gemeenskapsgeleenthede en feestelikhede wat vir ons belangrik is. Ons dorp het ’n goeie infrastruktuur; skole het goeie fasiliteite en daar is aktiewe betrokkenheid by die gemeenskap om dit so te hou. Daar is ’n gees van eenheid.
“As ons ’n kultuur kan skep dat ons saamwerk as eenheid, glo ek God se seën sal met ons dorp wees,” het Koen gesê.
Hy het sakelui aangemoedig om by die sakekamer aan te sluit “om ’n wenkultuur te skep”.
“Dis die regte ding om te doen. Dis ’n klein belegging om te maak in ’n organisasie met toegewyde mense wat sonder gewin uitkyk vir jou saak,” het hy gesê.
Geseënd met toekennings
Brink het gesê hulle is baie geseënd met al die toekennings wat die afgelope jaar na hul kant toe gekom het.
“Dankie vir die eer wat my te beurt geval het. Ons is bitterlik geseënd. Ons het nie daarvoor gevra nie, maar dankie vir die erkenning,” het hy gesê.
“Ek is hier in Durbanville gebore. Ek het hier skoolgegaan – by die voorbereidingskool, toe die laerskool en hoërskool. Toe ek 50 jaar gelede begin skoolgaan het, het ’n skoolbus my by die plaashek opgelaai. Ons was 120 kinders in die laat jare sewentig wat van die plase af gekom het – in 1996 toe my kinders begin skoolgaan het, was daar vier kinders,” het hy vertel.
“Dis die werklikheid van wat landbou 50 jaar gelede aan die dorp gedoen het. Meeste van julle het jul eie besigheid en wil in ’n omgewing werk wat vir jou lekker is. Julle sou nie hier gewerk het as dit nie vir julle lekker was nie,” het hy aan die sakelui gesê.
“Ons steun die sakekamer om Durbanville groter en beter te maak, met sy uitdagings. Die mense wat hier is, moet die reëls maak vir Durbanville.
“Kyk na ons skole. ’n Skool is net so goed soos sy ouers; dis hoekom die skole so fantasties vaar. Ouers van Durbanville is goeie mense wat kyk na hul omgewing en skole,” het hy gesê.
Brink het vertel dat hy sedert 1985 voltyds saam met sy pa geboer het, en in 1996 ná die dood van sy pa die boerdery oorgeneem het. Hy het in 2002 die eiendomsontwikkelingsmark betree.
Sedertdien het hy meer as 4 300 erwe ontsluit en in die proses sowat R123 miljoen se infrastruktuur namens die Stad Kaapstad gelewer in die vorm van eksterne ingenieursdienste en sowat R464 miljoen se kapitaaluitgawes aangegaan vir die voorsiening van interne infrastruktuur, wat ook aan die Stad oorhandig is.
“Ons sit in ’n sone wat onder druk is vir ontwikkeling, maar dit is goed solank daar verantwoordelik ontwikkel word saam met die Stad en riglyne en planne om ’n produk te skep wat goed is vir Durbanville se unieke karakter.
“Ons familie bly hier in Durbanville; my kinders bly hier en ons het ’n verantwoordelikheid dat die produk (van ontwikkeling) vir almal ten goede is,” het hy gesê





